Orkaan Irma verloor stoom
Orkaan Irma verloor stoom

Orkaan Irma verloor stoom

Orkaan Irma is intussen afgegradeer na 'n kategorie 1-orkaan, maar winde waai steeds teen ’n spoed van 135 km/h.
NAMPA
Orkaan Irma het gisteroggend met winde van 135 km/h oor die sentrale deel van die Amerikaanse deelstaat Florida beweeg nadat dit ‘n pad van verwoesting agtergelaat het.

Miljoene mense was sonder elektrisiteit, terwyl talle huise se dakke afgewaai het en die strate deur vloedwater oorstroom is.

Irma, wat vroeër as een van die kragtigste orkane ooit in die Atlantiese Oseaan geklassifiseer is, het die kus van Florida Sondag bereik en met groot vernietiging in ‘n noordwestelike rigting deur dié staat getrek.

Ofskoon dit intussen na ‘n kategorie 1-orkaan afgegradeer is, het die Nasionale Orkaansentrum gister gesê die windspoed was 135 km/h.

Baie gebiede aan dié staat se oos- en weskus is onder water wanneer orkane die seevlak laat styg.

Die direkteur van noodbestuur in Florida, Bryan Koon, het aan Reuters gesê beamptes sou tot sonop gisteroggend wag voor hulle met noodredding begin. Teen vroeg gister was dit ook nog nie bekend wat die omvang van die skade was en hoeveel mense in die orkaan omgekom het nie.

Irma het Sondag haar eerste Amerikaanse slagoffers geëis. ‘n Man het in die stormweer met sy bakkie in die dorp Marathon, in Florida Keys, teen ‘n boom vasgery en is dood in sy voertuig gevind.

Die orkaan het ten minste 28 lewens geëis terwyl dit weswaarts deur die Karibiese See na Florida beweeg het. Verwoesting is op verskeie klein eilande, asook op Porto Rico, die Dominikaanse Republiek en Haiti gesaai, waarna Kuba se noordelike kus deur 11 meter hoë golwe getref is.

Orkaan Irma was aanvanklik as ‘n kategorie 5-orkaan geklassifiseer, wat die hoogste vlak van intensiteit is. Dit het die eiland Barbuda Woensdag met ‘n windspoed van 295 km/h getref.

Dié verwoestende orkaan in aantog het Florida genoop om een van die grootste ontruimingsaksies in die Amerikaanse geskiedenis van stapel te stuur. Sowat 6,5 miljoen mense – ongeveer een derde van die staat se inwoners – is aangesê om die gebied te verlaat en na veiliger plekke uit te wyk. Teen gister was dit nog nie vir inwoners moontlik om huiswaarts te keer en die skade wat die orkaan tuis aangerig het, te bepaal nie. -Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!