Otavi treur oor 'wonderlike mens'

'n Geliefde boer van die Noorde wat die afgelope weke die verwoestende veldbrande tussen Outjo en Otavi uit die lug vir medeboere gemonitor
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



“Dit is net eenvoudig hartseer, hartseer. Ons het 'n wonderlike mens verloor.”

Só het 'n verslae me. Irene Hobohm van die plaas Abachaus oos van Outjo die ­tragiese dood van mnr. Chris Coetzee (73) beskryf. Hy het op die plaas Leyte tussen Outjo en Otavi geboer.

Sy dood is 'n tragiese nadraai van die verwoestende veldbrande wat reeds weke lank op die grens tussen die Kunene- en Otjozondjupa­streek woed. Coetzee het gereeld met 'n Cessna 172 oor die gebied gevlieg om aan die ander boere terugvoering oor die stand van die ­veldbrande te gee.



ongeluk

Sy vliegtuig, met die registrasiemerk V5-MPL, het Vrydagmiddag ná opstyging op die plaas Zhukov-Wes geval. Dit is sowat 80 km wes van Otavi.

Coetzee het vroeg Saterdag­oggend in 'n ­Windhoekse hospitaal aan sy beserings beswyk.

Hy is Vrydagaand eers per ambu­lans na Otjiwarongo Mediclinic geneem waar hy gestabiliseer is, voordat hy na Windhoek afgevoer is.

Mnr. Oskar Plichta, 'n ondersoeker by die direktoraat vir vliegtuigongeluk- en voorvalondersoeke in die ministerie van werke en vervoer, het aan Republikein gesê die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek,

Volgens Plichta het Coetzee op dié plaas van hom geland terwyl hy die gebied verken het.

“Dit brand oral. Jy kan nie glo hoe erg dit is nie,” sê Plichta.

Coetzee het opgestyg nadat hy met sy werknemers gepraat het wat met 'n voertuig nog water by die opstal kom haal het. Met opstyging het hy vermoedelik beheer oor die vliegtuig verloor en dit het neus eerste die grond getref, sowat 100 m van die opstal af, sê Plichta.

Dit het omstreeks 18:00 gebeur.

“Hy was aanvanklik ­bewusteloos, maar het bygekom nadat hy uit die vliegtuig gehaal is. Hy het egter nie veel gepraat nie,” sê Plichta.



'ONS KAN NIE MEER NIE'

Sy dood volg 'n jaar en vier dae nadat Irene se man, mnr. Horst Hobohm (76), saam met twee werknemers, mnre. Nangolo Naaneoweni en Elias Johannes, vir ernstige brandwonde in dieselfde hospitaal op Otjiwarongo behandel is. Hulle is deur vlamme oorval toe hulle 'n veldbrand op Abachaus bestry het.

Me. Christine Stoman, 'n boervrou van Otavi en bekende in landboukringe, sê ­nalatige kole­brandery op die Queen Sofia-­hervestigingsplaas oos van Outjo, was net soos verlede jaar vir van hierdie veldbrande verantwoordelik.

“Dit is van Septembermaand af 'n stryd om die veldbrande onder beheer te kry. Kort-kort vlam dit weer op; net soos die manne dink hulle het hom onder beheer, staan hy môre weer op,” sê sy.

“Kort-kort is op die (WhatsApp-)groep gesê oom Chris het oor die gebied gevlieg, en hy sê dit en dat oor die brande,” vertel Stoman

“Louis en Franka Maritz het erg deurgeloop. Hulle het maar 500 ha (se weiveld) oor,” sê sy. “En dit het net so erg by die Hobohms en Roelf van Tonder gebrand.

Irene sê hulle het in een week 10 800 ha se weiding weens die veldbrande verloor.

“Ons kan nie meer nie. Ons betaal ons grondbelasting, ons betaal ons inkomstebelasting. Ons skuld niemand geld nie, maar ons kry níks hulp van die regering nie.”

Sy sê as hulle plaas nie jaar na jaar afbrand omdat veldbrande wat op Queen Sofia ontstaan het, daarheen versprei nie, word hulle beeste gestroop. “Ons het in tien jaar 500 beeste verloor.”

Oor nalatige kolebrandery op Queen Sofia, het Van Tonder gister gesê: “Hulle gee net nie om nie. Ons het die brande Donderdag onder beheer gekry. Vrydag toe kom die volgende vuur deur. Hulle gee net nie om nie.

“Oom Chris het vir my gesê hy kon keer op keer uit die lug sien waar 'n veldbrand by 'n kiln (oond vir die maak van houtskool) ontstaan.”

'n Hartseer Van Tonder sê die ­realiteit van Coetzee se dood het hom gister eers getref. “Oom Chris was my mentor. Ek het so baie by hom geleer. Hy was altyd, altyd positief. Selfs hierdie brande kon hom nie breek nie.”



BEGRAFNIS

Reëlings vir Coetzee se begrafnis is nog nie bekend nie. Hy laat sy vrou, Emmie, en hul drie kinders, Dirk, Mara en Emmerentia, agter.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!