Otji-5-verhoor: Weduwee wil vergoeding eis

Sanet Pearson
Marc Springer – Die weduwee van 'n Zimbabwiese burger wat twee jaar gelede op Otjiwarongo vermoor is, het die eerste wetlike hekkie oorkom in haar strewe om die vermeende oortreders vir N$1,7 miljoen se skadevergoeding te dagvaar.

Hoërhofregter Eileen Rakow het in haar uitspraak gesê me. Betserai Moyo is nie verplig om sekuriteit te verskaf vir koste in 'n siviele saak wat sy teen sewe verweerders aanhangig gemaak het nie.

Dié vereiste is gewoonlik vir buitelandse eisers wat geen eiendom in Namibië besit wat gebruik kan word om aan 'n kostebevel teen hulle te voldoen nie.

Volgens Rakow sou hierdie vereiste die saak verhinder aangesien ­Moyo erken het dat sy, sedert die dood van haar man, behoeftig is.

Hy het glo vir haar en hul kind gesorg.

Rakow het in haar uitspraak verwys na die beginsel van gelykheid voor die wet en die reg op toegang tot die hof en het tot die ­gevolgtrekking gekom dit sou “onmoontlik” wees vir Moyo om sekuriteit van N$350 000 te verskaf, soos vier van die beskuldigdes geëis het.

Die respondente is mnre. Jonathan Patrick Myburgh, Jandre Jansen van Vuuren, Roberto Katjinamunene, Hendrick Simupureni en Kefas Kuutondokua, asook Gridhawk Security Company en Savemore Supermarket.

Die saak is tot 18 Mei vir voorverhoor uitgestel.



AGTERGROND

Die siviele saak word parallel met 'n strafregtelike saak teen die beskuldigdes aangehoor en spruit uit 'n voorval wat op 3 Junie 2020 plaasgevind het.

Die vyf mans het die smous en die eiser se man, mnr. Hlaisanani Zhou, na bewering in 'n agterkamer van die supermark by die Etemba Plaza, aangerand. Zhou is kort daarna in die hospitaal dood.

Hulle het Zhou na bewering daarvan beskuldig dat hy 'n buisie houtgom gesteel het in die supermark waar Gridhawk sekuriteit verskaf.

Vier van die respondente was in Gridhawk se diens. Nog 'n beskuldigde het in die supermark gewerk.

Moyo het na die nadoodse ondersoek verwys en gesê die beskuldigdes is alleenlik aanspreeklik vir haar man se dood.

Volgens Moyo het die beskuldigdes haar man aangerand en toe naby die pad gelos waar lede van die publiek op hom afgekom het.



SKADEVERGOEDING

Moyo het gesê haar man se dood het haar getraumatiseer en sy het finansiële steun van sowat N$6 000 per maand verloor.

Sy het glo die geld gebruik om na haar en hul minderjarige kind om te sien. As vergoeding vir dié verlies, eis sy 'n bedrag van N$1 miljoen.

Moyo eis ook skadevergoeding van N$600 000 vir die sielkundige skok en trauma as gevolg van die onregmatige dood van haar man en 'n bykomende bedrag van N$100 000 vir begrafnisonkoste.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!