Otjiwarongo-man uitoorlê twee orkane, rowers

Met sy eerste vaart op die oop see het Roselt du Plessis en 'n vriend hulle vasgeloop in twee orkane en rowers, en skynbaar 'n unieke plan beraam om ­veiligheid te bereik.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



'n Jong Namibiër wat saam met 'n vriend 'n nuwe seiljag moes gaan aflewer, het die grootste avontuur van sy lewe beleef toe hy hom in twee orkane by die Britse Maagde-­eiland Tortola vasgeloop het en daarna in skeepswrakke teen rowers moes skuil.

Boonop was dit Roselt du Plessis van Otjiwarongo se eerste vaart op die oop see nadat hy sy seiljagkursus voltooi het. Dit was ook die seiljag se nooiensvaart.

Du Plessis se ma, Vanessa Hayes, het gister aan Republikein gesê sy het 'n boodskap ontvang dat hy en die kaptein, sy vriend Jan Buhrmann­ van Kaapstad, veilig by die Tradewinds-­seiljagklub op Tortola-­eiland is.

Sy het egter sedert Vrydag nog nie weer van haar 29-jarige seun gehoor nie.

“Hierdie ma se hart bid net om sy stem te hoor wat sê 'ma, ek is oraait'.”

Die eiland het verlede week eers onder orkaan Irma deurgeloop, waarna dit die naweek ook deur orkaan Jose getref is.

Hayes sê Du Plessis het haar Vrydag met 'n satellietfoon gebel en het dringend­ gevra of daar nie iets van hier af gedoen kan word sodat hulle veilige blyplek kon kry nie.

“Hy het gesê die seiljag is in stukke gebreek.

“Terselfdertyd het orkaan Irma alles op Tortola-eiland platgevee – dit sluit in die hotel waarin hulle tuisgegaan het. Boonop is waarskuwings ontvang van orkaan Jose wat kom.”

“Die tronke is ook platgevee en die misdadigers het op die eiland rondgeloop en mense van geld en ander waardevolle items beroof.

“Roselt en sy vriend het op skeepswrakke­ weggekruip en oorleef van kos en water wat daarin gebêre was,” sê sy.

“Ná die oproep het ek nie weer van hom gehoor nie, dalk was die foon pap of was die data op. Daar was geen ander manier vir hulle om ons te kontak nie – daar is geen elektrisiteit of selfoonsein op die eiland ná die orkaan nie.

“Ek het Saterdag 'n boodskap gekry dat hulle veilig by Tradewinds is. Ek het nie 'n idee hoe hulle daar gekom het nie, maar ek is dankbaar om te hoor hulle is veilig.”

Hayes sê Du Plessis en Buhrmann het aan die begin van Augustus vertrek om 'n seiljag aan sy nuwe eienaar in die Britse Maagde-eilande te gaan aflewer. Sy is nie seker presies watter eiland hul eindbestemming sou wees nie.

Die reis het gekom kort nadat hy sy seiljagkursus in Durban voltooi het.

“Hy was skaars by die huis, toe hy op Facebook sien dat daar bemanning gesoek word vir die aflewering van 'n seiljag.

“Die eerste 38 dae op die water het alles voorspoedig gegaan, maar toe ontvang hulle verlede week Maandag die waarskuwing dat orkaan Irma op pad is. Hulle het by Tortola-­eiland aan wal gegaan om skuiling te soek,” vertel sy.

Sy sê hulle wou met 'n klein rubberboot­ rondom die eiland vaar na waar 'n beter skuilplek vir hulle sou wees, maar kon nie die kans waag nie omdat orkaan Jose op pad was en hulle geen manier gehad het om vas te stel hoe ver dit is nie.

Hayes sê volgens hul laaste gesprek sou hulle ná die afloop van dié avontuur­ na Frankryk reis en van daar terug­vlieg Namibië toe.

“Vir Roselt was dit 'n avontuur – iets wat hy eendag vir sy kinders sal kan vertel,” sê sy.

Intussen berig Netwerk24 dat Du Plessis en Buhrmann te midde van orkaan Jose 15 km ver na ­veiligheid op 'n rubberboot gereis het wat hulle uit wrakstukke saamgeflans het.

Volgens dié berig het Buhrmann se lewensmaat, Hermie Delport, gesê sy is nie seker watter enjin hulle vir die rubberboot reggemaak het nie, maar dit klink of dit 'n grasnyer s'n was.

Sy het gesê Saterdag het 'n onbekende­ vrou op die eiland haar gebel om te sê dat Buhrmann en Du Plessis veilig by Tradewinds ­aangekom het, ­alhoewel hulle geweldig uitgehonger, dors en baie moeg was.

Intussen het die Amerikaanse Nasionale­ Orkaansentrum orkaan Irma na 'n tropiese storm afgegradeer.

Teen saktyd was dit oor Georgië en Florida geleë en sou dit na verwagting verder verswak soos dit oor die binneland beweeg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!