Otjiwarongo reg vir Covid-19

Die owerhede en inwoners van dié dorp lê inisiatief aan die dag om plaaslike lewens te beskerm.
Augetto Graig
Augetto Graig



Otjiwarongo is hard besig met voorbereidings om die nuwe ­coronavirus by die horings te pak.

Die sakeleier mnr. Theo Borstlap en plaaslike apteker mnr. Dirk Coetzee het 'n 120 m² perseel vir dié doel geskenk.

Met die hulp van mnr. Rian Horn, algemene bestuurder van die ­Otjiwarongo MediClinic, is die gebou toegerus om, indien nodig, as ­isolasie-eenheid te dien.

Die eenheid is agter die ­MediClinic, langs die dorp se X-strale-gebou geleë – voorheen bekend as die ou PathCare-gebou.

Volgens Borstlap sal die perseel so lank as wat nodig is aangewend kan word.

Hy sê hy is bereid om nog 240 m² se winkelspasie in die nuwe Itemba Plaza-perseel vir soortgelyke doeleindes beskikbaar te maak indien nodig.

Borstlap sê dié stappe is nodige voorsorgmaatreëls en voeg by dit is belangrik dat mense nou na mekaar omsien.

Sy vennoot en kollega by Theo's ­Superspar, mnr. Stefan Ludik, sê by dié winkel geld die inperkings van die Khomas- en Erongostreek reeds.

“Ons verkoop nie meer alkohol nie, tref voorsorg, ontsmet almal se hande en het die bussies aangepas waarin werknemers vervoer word,” sê hy.

Horn sê die nuwe isolasie-eenheid bevat tans ses beddens, maar kan tot sewe huisves.

Volgens hom is hy tans op die uitkyk vir alternatiewe bykomende ruimte indien dit nodig raak, en dalk meer geskik is as Itemba wat in 'n besige deel van die dorp geleë is.

“Ons wil graag redelik geïsoleerd bly,” sê hy.

Horn sê die hele dorp was by die projek betrokke.

“Die munisipaliteit verskaf water gratis, Cenored gee die krag gratis, die ouetehuis gee beddens en beddegoed, en dr. Maritz Laubscher gee ook beddens en druphouers.

“Die MediClinic het 'n noodeenheidbed en 'n medisynetrollie geskenk. Elkeen gee wat hy kan,” sê hy.

Hoewel Horn van geen Covid-19-gevalle op die dorp weet nie, sê hy “ons moet die moeilikheid keer”.

Ander dorpsleiers is dit eens, insluitend me. Marlayn Mbakera, raadslid van die Otjiwarongo-kiesafdeling en voorsitter van 'n komitee van staat- en private dokters wat met die dorp ise owerhede saamwerk.

Hulle het Maandagoggend met die direkteur van gesondheid vergader om die pad vorentoe te bespreek.

“Ons is as 'n dorp gereed,” sê sy.

“As dit by die ergste kom, het ons die isolasie-eenheid en ons hanteer die uitdagings soos hulle opduik. Die ministerie van gesondheid het reeds mobiele suurstof vir die eenheid geskenk vir nou, terwyl ons met die sakegemeenskap sal praat oor die moontlikheid om nog suurstof aan te koop,” sê sy.

Volgens haar is die vergadering met Otjiwarongo se sakelui vir vandag beplan.

Mbakera sê Otjiwarongo se ­munisipaliteit het reeds ­agterstallige waterrekeninghouers se watertoevoer herstel en grawe tans slote om waterpype na gemeenskappe sonder water aan te lê.

Intussen sal die nabye weermag­basis watertenks skenk.

Mbakera sê sy onderhandel ook met NamWater om watertoevoer op ­naburige plase met agterstallige rekeninge te herstel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!