Otjiwarongo spog met Etemba Plaza

Visepresident Nangolo Mbumba sal as eregas ‘n splinternuwe winkelsentrum op ‘n Noordedorp open.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Etemba Plaza open Vrydag in Tuinstraat op Otjiwarongo.

Bouwerk van dié nuwe inkopiesentrum met sy 22 winkels is in September 2018 begin.

Etemba is ‘n Otjiherero-woord vir watergat of rusplek, sê die bekende Otjiwarongo-inwoner mnr. Stefan Ludik.

Volgens hom sal die sentrum inderdaad vir besoekers ‘n ontspanningsplek wees. Veral die nuwe Dros-restaurant sal ‘n gesellige ruimte skep waar mense kan eet, gesels en hulself geniet. “Dit sal ons bymekaarkomplek wees,” sê hy.

Etemba Plaza sal nog ‘n vorm van terapie bied: Inkopies.

Die sentrum huisves klerewinkels, skoonheidsalonne, boetieks,‘n ‘Bureau de Change’ om geld te wissel, en ‘n groter SaveMor wat grootmaatitems verkoop. Daar is bankgeriewe, die Street House-familiesentrum, die Safari Outdoor-sentrum vir jag- en kampitems, asook vuurwapens. By Plastilon is ‘n wye verskeidenheid verpakkingsprodukte van te kies en te keur.

Ludik is veral trots oor die getal werksgeleenthede wat die nuwe kompleks op die dorp sal verskaf. Sowat 200 Otjiwarongo-inwoners sal in diens geneem kan word.

Gedurende die bouproses is ongeveer 200 plaaslike werkers ingespan. Die plaaslike kontrakteurs, onder leiding van mnr. Theo Borstlap, het uitmuntende handewerk gedoen om te verseker van die winkels kon reeds teen die einde van Junie begin sake doen.

Ludik sê hy sien uit na die amptelike opening wat visepresident Nangolo Mbumba as eregas sal behartig. Volgens Ludik is Mbumba ‘n gereelde besoeker by die nabye Theo’s SuperSpar waar Ludik as bemarkingspesialis saam met Borstlap, die eienaar, werk.

In ‘n vroeër onderhoud met ‘n plaaslike koerant het Borstlap gesê die N$45 miljoen-ontwikkeling wat 4 500 m² beslaan, sal die hele omgewing ophef. Hy sê die ligging van die ou gebou, wat hy in 2018 gekoop het, is ideaal vir enige tipe besigheid, geleë in die kern van Otjiwarongo. Sy passie vir die dorp strek van kleins af, toe hy as kind lekkers by die familie se plaaswinkel verkoop het. ‘n Foto geneem in 1986 van die oorspronklike Theo’s-winkel kan nog op die webwerf theospar.com gesien word.

Vir die bou van Etemba Plaza is alle materiaal van plaaslike verskaffers aangekoop om te help in die moeilike ekonomiese tye, sê Borstlap. Volgens hom moet entrepreneurs dit sterk oorweeg om in Otjiwarongo te belê. Hy sê mense stroom steeds na die dorp en binne 20 jaar sal daar heel moontlik meer as 100 000 inwoners wees.

“As entrepreneur belê ek in die toekoms, nie op kort termyn nie. Al doen die ekonomie nie so goed nie, is Otjiwarongo steeds ‘n groeiende dorp. Ek dink dit is juis daarom ‘n goeie plek om in te belê.

“Toe ek die SuperSpar in 2006 geopen het, het mense my gevra hoekom so ‘n groot winkel op Otjiwarongo? Ek het hulle gevra hoekom nie? Toe vra hulle hoekom so ‘n mooi winkel, en ek vra weer hoekom nie? Wat is die verskil tussen ons en Windhoek?” vertel Borstlap.

“Ek glo die gemeenskap van Otjiwarongo benodig ordentlike winkelgeriewe. Ons is een van die groter winkels in Namibië. Hier is nog baie geleenthede om te verken.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!