Otjiwarongo tref voorsorg vir pandemie

Die personeel van dié dorp se munisipale kantore is gedurende die inperkingsmaatreëls verminder en ’n isolasie-eenheid is toegerus om Covid-19-pasiënte te huisves.
Augetto Graig
Augetto Graig - Otjiwarongo het begin om voorsorgmaatreëls te tref vir die verwagte uitbreking van Covid-19 op dié dorp.

Volgens die uitvoerende hoof van die dorp se munisipaliteit, mnr. Moses Matyayi, werk sy kantoor saam met die streekgoewerneur se kantoor en is hulle in gesprek met beamptes van die plaaslike ministerie van gesondheid om die impak van Covid-19 te beperk.

Nadat president Hage Geingob onlangs inperkingsmaatreëls afgekondig het in ’n poging om die verspreiding van die virus te beperk, is Otjiwarongo se munisipaliteit besig om amptenare en die gemeenskap op te lei.

Die munisipaliteit het ook hul personeel verminder.

Matyayi moedig inwoners aan om telefonies met die munisipaliteit in kontak te tree, terwyl aansoekvorms vanaf hul webtuiste afgelaai kan word, en met betaalbewyse per e-pos ingestuur kan word.

Kontantbetaling kan nog gedoen word, maar net een kliënt sal op ’n keer in die kantoor toegelaat word.

Personeel kan nog vir wateraansluiting of vullisverwydering uitgestuur word, sê hy.

Die polisie handhaaf die hokreëls en sover voldoen Otjiwarongo se besighede aan die maatreëls, sê hy.

Sjebeens moet hul besigheidsure beperk terwyl daar nou ook ‘n verbod op die verkoop van alkohol is.

Een van die munisipaliteit se doelwitte is om die toegang tot water vir die dorp se informele nedersettings te verseker, sê hy.

Voor die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling opdrag gegee het dat die watertoevoer vir almal oopgemaak moet word, was 186 kliënte se watertoevoer weens wanbetaling afgesny. Dié kliënte se water is weer oopgemaak, sê hy, ten spyte van die koste wat dit vir die munisipaliteit mag inhou.

Terselfdertyd word die dorp se waternetwerk ook uitgebrei.

“Net die nuutste onwettige nedersettings is nog nie gediens nie. Ons is besig om waterpype te lê,” het hy gesê.

Die dorpsraad het Woensdag (1 April) met die plaaslike sakelui vergader om bykomende maatreëls te bespreek.

Die sakelui van Otjiwarongo het reeds die voortou geneem deur ‘n perseel te skenk wat as ’n isolasie-eenheid gebruik gaan word.

Die vergadering het ook ten doel gehad om risiko’s vir plaaslike besighede gedurende die Covid-19-pandemie te bespreek.

Matyayi sê die munisipaliteit is gevra om ‘n begraafplaas vir Covid-19 slagoffers voor te stel.

‘n Deel van ‘n beplande nuwe begraafplaas buite die dorp se woongebied word daarvoor voorberei, sê hy.

Die perseel is gekies aangesien dit uit die dorpsgebied geleë is, brei hy uit.

Verder versprei verkeersbeamptes opvoedkundige materiaal en inligtingsessies is met informele verkopers en inwoners van die dorp se nedersettings, saam met amptenare van die gesondheidsministerie gehou.

“Ons inwoners tref voorsorg en baie het reeds water en ontsmetmiddels aangekoop,” sê hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!