Otjiwarongo wen nog ’n liga

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Hul bynaam is die Tornado’s en hiervan kan hul opponente in die pas afgelope liga eerstehands getuig.

Die onoorwonne krieketspan van Otjiwarongo het Sondagoggend met ’n reuse-oorwinning Krieket Namibië se tweedeliga (30 boulbeurte) gewen, nadat hy in Desember ook reeds die T20-liga ingepalm het.

Otjiwarongo het Sondag op die CCD-veld met 114 lopies teen Groenmambas se tweede span gewen, nadat hy dieselfde Windhoekse klub se eerste span die vorige dag in die semifinaal uitgeskakel het.

Die noordespan het in sy 30 boulbeurte ’n puik totaal van 222/8 opgestel, wat rondom vyftigtalle deur Oscar Chimutenga (68 van 71 balle, twee viere en een ses) en die mokerman Handre Klazinga (75 van 47 balle, 4x4 5x6) gebou was.

Neels Labuschagne is vir 30 uitgevang, terwyl Otjiwarongo se lopiemasjien in dié liga, Nicardo Pienaar, nie tevrede gelyk het toe hy been-voor-paaltjie uitgegee is vir 25 van 27 balle (3x6) nie.

Die Groenmambas het egter afgesien van Tian Muller se 39 van 53 balle (3x4 1x6) min weerstand gebied, voordat almal vir 108 uitgeboul is. Die regterarm mediumsnelbouler Oscar Chimutenga (4/15 in 5 bb) was deurgaans gevaarlik, terwyl Sarel Herbst met 2/3 in 2 bb toegeslaan het.

• Nicardo Pienaar het die vorige dag in die semifinaal teen Groenmambas I baljaar deur nege sesse en drie viere te slaan voordat hy met sy 61ste bal vir 82 lopies uitgevang is.

As aanvangskolwer het Pienaar saam met Handre Klazinga se vyftigtal (59 van 44 ball, 5x4 3x6) die groot rol gespeel om Otjiwarongo se kolftotaal tot 202 op te jaag.

Die Groenmambas het vroeë paaltjies verloor, maar het nietemin vasgebyt tot 175 almal uit. Die hoogtepunte was egter Rowan Erasmus (36 van 45 balle) en Willie Junius (29 van 28 balle) se tellings.

STERK KOLWERS

Otjiwarongo se span, die afgelope vier jaar geborg deur Pupkewitz Von Baum’s Volkswagen, het in die pas afgelope eendagliga boaan die puntelys geëindig deur vier uit ses wedstryde te wen, benewens twee wat uitgereën het.

Die noordespan het ook die naweek se uitklop-aksie aangepak sonder Jan-Hendrik Potgieter, een van sy topkolwers, asook die naatbouler Raine Raath wat beide op uitnodiging aan die Richelieu Franchise T20-wedstryde deelgeneem het.

Van Otjiwarongo se uitblinkers die afgelope seisoen was:

Eendagliga, topkolwers: Nicardo Pienaar 279 lopies in vyf kolfbeurte, gemiddeld 55.8, kolftempo 131; Handre Klazinga 134 lopies in drie kolfbeurte, gemiddeld 67, kolftempo 147.

T20-liga, topkolwers: Jan-Hendrik Potgieter 412 lopies in sewe kolfbeurte, gemiddeld 103, kolftempo 238; Nicardo Pienaar 382 lopies in nege kolfbeurte, gemiddeld 63.7, kolftempo 153.

Eendagliga, beste bouler: Sarel Herbst 10 paaltjies (gemiddeld 10.3, ekonomie 5.2); Neels Labuschagne 8 paaltjies (gemiddeld 14.4, ekonomie 4.4).

T20-liga, beste bouler: Neels Labuschagne 18 paaltjies (gemiddeld 10.8, ekonomie 5.5), Sarel Herbst 16 paaltjies (gemiddeld 10.4, ekonomie 5.5).

Die vooruitsig vir Otjiwarongo is dat hy volgende seisoen na Krieket Namibië se eerste liga kan opksuif, hoewel dit dalk aan ’n promosie-relegasiewedstryd onderhewig is.

[email protected]

FOTO’s

Nicardo Pienaar is in die finaal op 25 b.v.p. uitgegee, maar het ’n briljante kolfseisoen beleef met 661 lopies in T20- en eendagwedstryde. Foto Andrew Poolman

Die krieketspan van Otjiwarongo Tornado’s ná hul ligatriomf Sondag. Voor van links is Jay-Jay Ruben van Wyk, JP Gonsalves en Handre Klazinga. Die tweede ry is Nicardo Pienaar, Janes van Zyl en Debbie Swart (tellinghouer). Die derde ry is Graham Cilliers, Scot Botha (kaptein) en Oscar Chimutenga, en heel agter is Neels Labuschagne, Sarel Herbst, Jay-Jay Liebenberg en Christo van Schalkwyk. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer