Ou boere maak die wêreld bekommerd
Hanlie Stadler - Ministers van die G7-lande het gister ooreengekom om landbou-innovasie en -beleggings te bevorder.
Die G7 sê boere en hul werkers word wêreldwyd al hoe ouer én uiterste weer heers op die oomblik – alles terwyl die wêreldwye vraag na kos aan die styg is. “Gemotiveerde, vaardige en ondernemende boere is noodsaaklik vir die groei van die landbousektor,” het die G7-ministers ná die tweedaagse konferensie oor voedselsekerheid in Japan gesê.
Tom Vilsack, Amerika se minister van landbou, sê ouer wordende boere kan die vermoë om in die wêreld se vraag na kos te voorsien, in gevaar stel. Volgens die Verenigde Nasies (VN) is die gemiddelde ouderdom van boere in ontwikkelde lande 60 jaar. In Japan is dit selfs 67.
Suid-Afrika het ook ’n probleem met verouderende boere. Navorsing wat Agri SA ’n paar jaar gelede gedoen het, toon dat die gemiddelde boer in Suid-Afrika 62 jaar oud is.
Die ministers wil onder meer geleenthede vir vroue en jong mense in die landbou bevorder; boere aanmoedig om ook tot voedselverwerking, -verspreiding en -dienste toe te tree; tegnologie in die landbousektor bevorder; saam stry teen diere- en plantsiektes; en voedselvermorsing verminder.
Dit is soortgelyk aan dinge wat die Suid-Afrikaanse regering en georganiseerde landbou gereeld sê, soos dat boere by die hele verskaffingsketting betrek moet word en dat jong mense en vroue geleenthede moet kry om in die landbou te werk. Agri SA organiseer die jaarlikse Jong Boer van die Jaar-kompetisie sowel as uitstallings oor loopbaangeleenthede in die landbou om jong mense se belangstelling in dié sektor te prikkel.
Die G7 is Amerika, Brittanje, Duitsland, Italië, Kanada, Japan en Frankryk. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie