Ou bome in sakegebied afgekap
Op Nasionale Boomplantdag sal nuwe bome aangeplant word in die plek van die sukkelende ou uitheemse spesie.
Tanja Bause – Die hoofstad sal vanjaar op ’n nuwe blaadjie begin met die aanplant van inheemse bome in die gewilde Zoo Park in die sentrale sakegebied.
Sowat twee maande gelede is sewe ou bome in die Zoo Park afgesaag. Volgens mnr. Harold Akwenye, woordvoerder vir die munisipaliteit, is die bome meer as 20 jaar gelede daar geplant.
“Die bome wat in Onafhanklikheidslaan geplant is, is Chinese nettelbome (Celtis sinensis). Hulle is snel groeiende uitheemse bome wat dikwels in parke en groot tuine geplant word, maar is nie noodwendig die beste vir ’n droë land soos Namibië nie. Hulle het ook ’n baie aggressiewe diep wortelstelsel wat baie spasie benodig en plaveisel kan oplig wat te naby aan die boom is.
“Die huidige situasie is ’n uitdaging, want die visdam in die Zoo Park is ook deur hierdie bome se wortels beskadig. Die visdam staan al vir geruime tyd reeds leeg en agter versperrings.”
Volgens ’n winkeleienaar in Onafhanklikheidslaan was een van die afgesaagte bome dood en moes verwyder word.
“Volgens my het die ander bome beslis ’n snoei gekort,” het hy gesê.
Volgens Akwenye was ook die bome uitheems en het hulle swaargekry weens die Namibiese klimaat, droogtes en hul ouderdom.
“Dit is die parke-afdeling van die munisipaliteit se plig om Windhoek mooi groen te maak en dus is besluit om die bome met inheemse bome te vervang.
“Afgesien van die een dooie boom wat waargeneem is, vaar die lewendige bome ook nie goed nie. Hulle het gesond gelyk, maar volgens ons evaluering was net die stam gesond en die takke was uitgedroog en dus het ons besluit om hulle te verwyder. Hulle is afgesaag en die stomp is met ’n chemikalie behandel om te verseker dat die wortels dood is om hergroei te voorkom.
“Die munisipaliteit sal die bome tydens Nasionale Boomplantdag met inheemse bome vervang. Die meeste van die dooie bome sal ook met bosse vervang word as deel van tuinbou-verfraaiing van die stad. Die stad voldoen aan die omgewingswet om ekologiese bewaring te handhaaf.”
Volgens Akwenye sal die oorblywende stompe in middel Mei verwyder word en in Junie sal met die bemesting en voorbereiding van die gate vir die nuwe bome begin word.
“Die nuwe bome is nog in die stad se kwekery en sal in die lente geplant word.”
Daar is ook huidig nie ’n kontrakteur vir die instandhouding van die Zoo Park nie. Na verwagting sal die nuwe kontrakteur volgende maand aangestel word.
“In die tussentyd doen munisipale werkers die instandhouding. Weens beperkte mannekrag en ander belangrike werk in en om die stad kan hulle net een keer ’n week in die Zoo Park werk.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie