Ou gebreke kasty Proteas teen Kiwi's
Ou gebreke kasty Proteas teen Kiwi's

Ou gebreke kasty Proteas teen Kiwi's

Krieket
Tielman van Lill
Altus Momberg



Een van Suid-Afrika se ou gebreke het weer gister in Christchurch kop uitgesteek om die Proteas se reeks agtereenvolgende oorwinnings by 12 te stuit.

Nieu-Seeland het die tweede eendagwedstryd met ses lopies gewen. Die tuisspan is ingestuur om eerste te kolf en het 'n indrukwekkende 289/4 aangeteken. Suid-Afrika is uiteindelik tot 283/9 beperk.

Die reeks van vyf wedstryde is nou met 1-elk gelykop. Dit was 'n naelbyt-stryd teen die einde met Dwaine Pretorius wat 50 van net 27 balle gemoker het om die Kiwi's skrik te maak. Die uitslag teen die einde vlei die Suid-Afrikaners effe.

Van die oomblik wat AB de Villiers sy paaltjie verloor het, was die Kiwi's in beheer van sake. Die Proteas se onvermoë om 'n stadige kolfblad te bemeester, veral teen die draaiers, het hulle gister soos verskeie kere voorheen gekortwiek. Dit het mens laat terugdink aan vorige kragmetings teen Nieu-Seeland waar dieselfde kwaal die Suid-Afrikaners geteister het.

Die Wêreldbeker-kwarteindstryd in Dhaka, Bangladesj in 2011 was só 'n wedstryd waar Suid-Afrika goed op pad was om die teiken van 221 te haal, maar hulle het hul rieme styf geloop teen Nathan McCullum en Dan Vettori.

Gister in Christchurch was dit twee jong draaiers in Mitchell Santner en Ish Sodhi. Hulle het veral in die laaste 20 beurte die Proteas onder druk geplaas en dit was moeilik om grenshoue teen dié draaiers op die stadige blad te slaan.

Hulle het die toestande beter opgesom as Suid-Afrika se groot wapen, Imran Tahir, wat te vinnig geboul het op die blad. Die Kiwi's het besef hoe stadiger jy boul, hoe moeiliker is dit vir die kolwers.

Suid-Afrika het redelik gekolf vir die eerste 40 boulbeurte, met Quinton de Kock (57) en AB de Villiers wat goed gelyk het. Hulle het egter nooit werklik oorheers nie.

Nie soos Nieu-Seeland se held, Ross Taylor, nie. Taylor (102* van 110 balle; 8x4) het sy 17de honderdtal in internasionale eendagkrieket – 'n Nieu-Seelandse rekord – aangeteken. Hy het die pas van die Kiwi's se beurt uitstekend beheer. Hy het deel gehad aan twee deurslaggewende vennootskappe.

Taylor en die kaptein, Kane Williamson, het 'n vennootskap van 104 lopies van net 105 balle om die tweede paaltjie aangeteken om die perfekte platform vir die beurt te bou. Hy en Jimmy Neesham (71* van 57 b; 6x4) het toe die beurt afgesluit met 'n onoorwonne 123 van 104 balle om die tuisspan by 289 uit te kry.

Daar is steeds ernstige vrae oor die Proteas se boulaanval. Die spanbestuur het twee veranderinge aan die boulaanval aangebring met Pretorius wat die tweede draaier Tabraiz Shamsi se plek geneem het en Wayne Parnell wat teruggekom het vir die beseerde Kagiso Rabada (knie).

Pretorius (2/40) was verreweg Suid-Afrika se beste bouler op die dag. Hy het met indrukwekkende akkuraatheid en dissipline geboul en nie 'n enkele Nieu-Seelandse kolwer het gemaklik teen hom gelyk nie.

Parnell het nogmaals gewys hoe frustrerend hy vir Suid-Afrikaanse ondersteuners is. Hy het uitstekend begin, die eerste paaltjie laat kantel en net ses lopies in sy eerste drie beurte afgestaan.

Hy het met 1/49 geëindig nadat hy teen die einde deurgeloop het, maar dit was een van sy beter vertonings met die bal.

Die probleem is dat niemand enige vertroue het dat hy in die volgende wedstryd wéér so sal boul nie. Hy is bloot te wisselvallig.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer