Ou plastieksakke bring geld vir vroue in
In Otjomuise herwin en verwerk vroue afvalmateriaal om hul kinders te onderhou.
Tanja Bause - “Wanneer ek in 'n ry staan en wag, dan hekel ek. As ek nie hekel nie, dan bly my kinders honger.”
Só sê me. Siba Puyatulra (43) wat deel is van 'n vroueprojek in Otjomuise in die hoofstad wat met herwinbare materiale, veral plastieksakke, bruikbare artikels maak en verkoop om hul families te onderhou.
Die idee om van opgeknipte plastieksakke gehekelde handsakke, inkoopsakke, tafelmatjies en bakke te maak, kom van me. Elisabeth Wallner.
“Ek het in Duitsland so 'n sak wat uit plastieksakke gehekel is, gehad om my inkopies mee te doen. Ek wou dit saamvat toe ons Windhoek toe trek, maar my man het gesê ek is gek - daar is genoeg plastieksakke in Namibië,” het Wallner gesê.
Sy het na die plastiekinkoopsak van haar verlang en besluit om self een te hekel.
“Ek kon hekel en het gedink dit kan nie so moeilik wees nie. Ek het geoefen en dit reggekry. Ek het vir me. Agnes Röhm, stigter van die Mammadu-trust, ontmoet en saam het ons besluit dat ons vroue van die Otjomuise informele nedersetting kan leer hoe om dié goed te hekel,” het Wallner gesê.
Röhm het belangstellende vroue gevra om na die Mammadu-sentrum in Otjomuise te kom om opleiding te ontvang, wat Wallner vir die vroue aangebied het.
Puyatulra is sedert die begin van die projek drie jaar gelede deel daarvan. Sy het voorheen klere gemaak, en met haar nuut geregistreerde onderneming, Blessed Handmade Investment, hoop sy om eendag haar droom te verwesenlik.
“Ek wil graag ander vroue ook leer om met hul hande te werk. Ek wil hulle leer om klere en die plastiekartikels te maak,” het sy gesê.
“Dit is nie nodig om net te sit en swaar te kry nie. Jy het gesonde hande, gebruik hulle en doen iets. Werk vir jouself.”
Puyatulra het ses eie kinders en nog 'n kind wat sy ook grootmaak. Volgens haar maak sy genoeg geld om kos te kan koop, maar sy moet harder werk om meer geld te maak om beter na die sewe kinders te kan omsien.
“Ek was nou die dag in die hospitaal en ek vat my goed altyd saam sodat ek kan hekel. Wanneer ek beter gevoel het, het ek in die bed gelê en gehekel. Dit hou my besig en ek werk; ek kan nie geld maak as ek nie werk nie,” vertel sy.
“Ek het ook baie bestellings van die dokters en verpleegsters ontvang. Wanneer ek in die openbaar hekel, dan adverteer ek sommer my produkte.”
Die vroue kom elke Vrydag by die Mammadu-sentrum bymekaar om plastieksakke en ander herwinbare materiale te ontvang en dan werk hulle by hul huise.
“Die idee is dat die materiale vir die vroue niks kos nie. Wanneer hulle van die artikels verkoop, is die wins 100% hulle s'n,” het Röhm gesê.
Maar daar is nie altyd genoeg plastieksakke nie en Puyatulra koop dan plastiek aan om te kan werk.
“Ek koop plastiek van verskillende kleure aan om my produkte kleur te kan gee en ook om te kan werk as daar nie genoeg plastieksakke vir my is nie,” het sy gesê.
Me. Upowe Kaoronda (31) se kind wat by die Mammadu-sentrum onderrig ontvang, het vir haar van die nuwe projek vertel.
“Ek is baie bly dat ek deel van die projek kan wees. Ek maak bruikbare artikels uit goed wat mense weggooi,” het Kaoronda gesê.
Sy het twee kinders en verkoop ook brood van haar huis af om haar inkomste aan te vul.
“Eendag wil ek 'n besigheid begin waar vroue hul hare kan laat doen. Wanneer hulle klaar is, kan hulle sommer hul inkopies by die winkel doen en huis toe gaan. Dit moet so 'n eenstop-winkel wees. Jy sit en word mooi gemaak en doen jou inkopies.”
Volgens haar bestaan daar nie iets soos werkloosheid nie.
“Ons het nie werk nie, maar dit beteken nie dat ons niks doen en nie geld kan maak nie. Jy moet vir jouself werk gee. Jy moet dinge laat gebeur,” het sy gesê.
Sy gebruik koerante om mandjies te maak.
“Ek vat die koerante en sny hulle in repies. Dan rol ek hulle op en plak die punte vas. Die opgerolde 'stokkies' koerantpapier word dan gevleg en mandjies van gemaak. Dit is amper soos die rietmandjies wat ander mense in die land maak, behalwe dat myne van koerante gemaak is.”
Me. Belinda Kaoronda (42) het by haar pastoor van die projek gehoor en het ook drie jaar gelede aangesluit.
Sy het met 'n geleende naaimasjien klere begin maak en gebruik oorskietlappe en materiaal. Sy hekel ook plastiekartikels.
“Ek het nou iets bygeleer en kan nou nog meer en verskillende goed vervaardig.”
Sy het ook ses kinders, wat sy onderhou deur middel van haar onderneming, Ndjipa Mbikupe, wat beteken “gee vir my en ek gee vir jou”. Haar droom is om dit uit te brei en nóg vroue aan te stel.
“Ons vroue moet mekaar help en wanneer een van ons iets leer en kan doen, moet ons die ander leer sodat hulle ook geld kan maak,” het sy gesê.
Puyatulra doen 'n beroep op die gemeenskap om hul plastieksakke te versamel en vir hulle te gee.
“Dit is beter as ons skoon plastieksakke van die gemeenskap af kry as wat ek in Otjomuise rondhardloop en vuil sakke optel. Ek kan nie my produkte van vuil plastieksakke maak nie.
“So, maak hulle bymekaar en laat weet vir Agnes, ons sal hulle kom optel. Dit is beter as wat hulle die hele wêreld rondlê en die land vuil maak. Ons kan die afval in mooi, bruikbare artikels omskep,” het Puyatulra gesê.
Die vroue soek ook 2 liter-koeldrankbottels en oorskietlappe om te verwerk.
“Gee vir ons julle vullis en ons maak mooi goed daaruit,” het Upowe gesê.
Wallner is steeds by die projek betrokke en bied gereeld opvolgklasse aan.
“Ek kyk na die kwaliteit en gee raad en hulp.
“Dit het vir my ook jare gevat voordat ek perfek kon hekel. Dit vat oefening; niemand kan oornag perfek hekel nie,” het Wallner gesê.
Sy het die vroue geleer om handsakke, inkoopsakke en tafelmatjies te maak. Die vroue maak ook hoede en selfs plakkies.
“Ons dink aan goed en dan maak ons dit. Soms vat dit 'n paar probeerslae om dit perfek te kry, maar dan doen ons dit oor en oor totdat dit lyk en werk soos dit in ons gedagtes gewerk het. Die plakkies van plastiek sal jy nou nie aantrek as jy buite is of dorp toe gaan nie, maar vir binne in die huis of in die stort, werk hulle perfek,” het Upowe gesê.
Al drie die vroue het hulle dank aan Wallner en Röhm uitgespreek.
“Ons is baie dankbaar dat die twee vroue vir ons die vaardigheid geleer het en dat hulle ons ondersteun en help om selfvoorsienend te kan wees.”
Hulle vervaardig ook items volgens kliënte se spesifikasies en bestellings. Gondwana Collections het 150 van die tafelmatte vir sy Etosha Safari Camp bestel.
Tans word die artikels by die Mammadu-sentrum in Otjomuise, Wecke & Voigts en by Etosha Safari Camp verkoop.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie