Oud-atletiekbaas in hof vir korrupsie
Atletiek
Ná 'n jarelange ondersoek het die verhoor van die omstrede voormalige hoof van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), Lamine Diack, gister in Parys begin.
Diack is tussen 2015 en 2019 vir onder meer afpersing en omkopery in wêreldatletiek ondersoek.
Diack en sy seun, Papa Massata, is verlede jaar daarvan aangekla dat hulle oor 'n tydperk van jare by verskeie onwettige praktyke rakende internasionale atlete en hul federasies betrokke was.
Die Diack-familie se skandale het in 2017 tot die Namibiese naellooplegende Frank Fredericks se skorsing as lid van die Internasionale Olimpiese Komitee bygedra.
Ondersoekers het bevind dat Fredericks 'n betaling van US$300 000 van Diack junior ontvang het op dieselfde dag waarop die aanwysing van Rio de Janeiro as gasheerstad vir die 2016 Olimpiese Spele aangekondig is.
Fredericks se naam is gister nie genoem in nuusberigte oor diegene wat vandeesweek in Parys in die hof moet verskyn nie. Hy het destyds skuld ontken en het gesê die betaling was vir atletiekverwante konsultasiewerk. Hy kon gister nie vir kommentaar bereik word nie.
Die klagte van geldwassery en korrupsie teen Diack word met die Russiese opkikkerskandaal verbind, en hy kan 'n vonnis van tot tien jaar tronkstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word.
Die ondersoek is in 2015 begin kort nadat die IAAF se etiese kommissie en die Wêreldagentskap Teen Verbode Middels in Sport (Wada) bewyse gevind het dat 'n Russiese marathon-atleet wat 'n opkikkertoets gedop het meer as US$680 000 (bykans R10 miljoen) aan omkoopgeld betaal het sodat hy steeds in 2012 aan die Olimpiese Spele in Londen kon deelneem.
Franse owerhede het sedertdien bewerings ondersoek dat Diack betalings van tot €3 miljoen (R48 miljoen) aanvaar het om atlete te help wat opkikkers gebruik het.
Diack, wat tussen 1999 en 2015 hoof van die IAAF was voordat Sebastian Coe as die huidige hoof oorgeneem het, ontken skuld.
Die inhegtenisneming van dié 86-jarige Senegalees het die aansien en geloofwaardigheid van die IAAF, nou Wêreldatletiek, 'n groot knou toegedien.
Franse owerhede beskuldig Diack, voorheen 'n burgemeester van Dakar in Senegal, ook daarvan dat hy van die geld wat hy deur die IAAF gekry het vir 'n politieke veldtog in sy geboorteland aangewend het.
Hy is reeds sedert November 2015 onder huisarres in Parys.
Sy seun, wat in 2016 lewenslank uit atletiek geskors is, sal in sy afwesigheid verhoor word. Papa Massata kruip steeds weg in Senegal nadat twee internasionale lasbriewe vir sy inhegtenisneming uitgereik is, maar die land weier om hom uit te lewer.
Die voormalige hoof van Russiese Atletiek, Walentin Balachnitsjef (korrupsie en geldwassery), sowel as die voormalige Russiese middelafstand-afrigter Alexei Melnikof (korrupsie), sal ook in hul afwesigheid verhoor word.
Al ses beskuldigdes ontken die bewerings teen hulle.
Die verhoor sal na verwagting die volgende twee weke voor regter Rose-Marie Hunault voortduur.
– Bygewerk van Netwerk24 en BBC

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie