Oud-Bok Chiliboy vir 8 jaar geskors
Oud-Bok Chiliboy vir 8 jaar geskors

Oud-Bok Chiliboy vir 8 jaar geskors

Rugby
Tinus van Staden – Die voormalige Springbok-haker Chiliboy Ralepelle is vir agt jaar geskors nadat hy aan die gebruik van die verbode middel zeranol skuldig bevind is.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het bevestig dat ’n onafhanklike tribunaal vandeesweek in twee dele uitspraak gelewer het nadat Ralepelle op 17 Januarie 2019 in Durban positief getoets is in ’n lukrake buitekompetisietoets.
Ralepelle het 21 dae om teen sy straf te appelleer. As hy nie appelleer nie of sonder sukses appèl aanteken, sal sy skorsing eers op 27 Januarie 2027 verstryk.
Ralepelle (33), wat dan 40 jaar oud sal wees, se rugbyloopbaan is dus vir alle praktiese doeleindes verby.
Sedert dit verlede jaar rugbaar geword het dat hy vir die derde keer in sy loopbaan positief getoets is vir die gebruik van opkikkers, het Ralepelle volgehou hy het die middel, wat ’n groeihormoon is, onwetend ingeneem.
Ralepelle het die klag teengestaan en het ook regshulp ingewin om hom te help om sy weergawe van gebeure aan die tribunaal voor te lê. Dít het die proses uitgerek.
Saids sê verhore is verskeie kere verdaag en is oor ses maande gehou. Die paneel het eers oor die meriete van die saak besluit, waarna Ralepelle skuldig bevind is.
Hierna moes die tugpaneel op ’n straf besluit. Die tugpaneel het dié saak as sy tweede skuldigbevinding beoordeel en hom ’n skorsing van agt jaar toegedien.
In 2014 is Ralepelle vir die gebruik van ’n verbode middel vir twee jaar geskors.
In 2010 is opkikkers ook in sy bloed gekry, maar hy is onskuldig bevind nadat hy kon bewys die middels was in ’n proteïenaanvulling wat die Springbokke gebruik het.
• Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, sê die saak van nog ’n Springbok wat positief getoets is vir die gebruik van ’n verbode middel, die vleuel Aphiwe Dyantyi, kan hopelik in September voorkom.
“Ons werk daaraan om protokolle en prosedures vir ’n virtuele verhoor te bevestig. Ons moes wag vir laboratoriums om te heropen sodat bykomende monsters ontleed kon word,” het Galant aan Netwerk24 gesê.
Die 25-jarige vleuel is verlede jaar in Julie positief vir die gebruik van die anaboliese steroïede metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033 getoets. Hy staan die bevindinge teen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer