Oud-Namibiër in China vir uitvindsel vereer
'n Baanbreker-uitvinding deur 'n oud-Namibiër is deesdae verpligtend vir veiligheid in myne.
Ronelle Rademeyer
'n Gebore Namibiër wat al as kaalvoetklong geweet het die ingenieursbloed loop in 'n dik stroom deur sy are, het 'n toestel ontwerp wat mynveiligheid op sy kop gekeer en die aandag van die Chinese regering getrek het.
Miljoene Amerikaanse dollar gaan ook deur die Verenigde Arabiese Emirate bestee word om dit vir die beveiliging van pantsertuig te gebruik.
Mnr. Helmut Späth (68), eienaar van ExploSpot Systems en die ontwerper van 'n revolusionêre stelsel wat metaanontploffings in myne as't ware in die kiem smoor, het op die plaas Dawebtsaub by Karibib grootgeword.
Hy is die broer van die bekende Windhoekse veearts, dr. Wolfgang Späth.
Die ExploSpot-stelsel is 'n gerekenariseerde toestel bestaande uit 'n optiese sensor wat die kleinste vlam binne 'n halwe millisekonde kan waarneem. Dit aktiveer die kleppe in 'n beheerkas om binne twee millisekondes te ontsluit.
Hoëdruk-silinders stel dan die blusmiddel, mono-ammoniumfosfaat, vry wat die vlam blus vóór dit tot 'n ontploffing kan lei.
“Dit kan enige vlam blitsvinnig blus, 'n ontploffing keer, lewensverlies voorkom en skade tot die minimum beperk,” sê hy.
Beginjare
Sy eerste ontwerp as jong boer op hul familieplaas was 'n spesiale tang wat gepatenteer is en as 'n SpanFix bekend staan.
Späth vertel hy het na afloop van sy studies in meganiese ingenieurswese eers kom boer, aangesien werksgeleenthede vir ingenieurs daardie jare nie volop was nie.
Daarna het hy hom by die destydse Krygkor aangesluit waar hy as deel van 'n ontwikkelingsprojek krygsvoertuie en -materiaal vir die weermag ontwerp het.
Sy eerste groot projek was die ontwikkeling van die Ratel (tussen 1972 en 1975).
Van 1975 tot 1988 was hy die projekleier op Krygkor se Olifantprojek. Op 28 Maart 1989 het hy 'n spesiale toekenning van die destydse Suid-Afrikaanse weermag ontvang vir die uitsonderlike werk wat hy verrig het.
In 1990 het Späth sy eie ingenieursmaatskappy, HS Design Engineering, by Pretoria gevestig, met sewe mense in diens.
Die daaropvolgende dekade het hy grootliks aan die ontwikkeling van die ExploSpot-stelsel bestee.
Met die hulp van Anglo American en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) in Suid-Afrika, is die stelsel getoets om seker te maak dit voldoen aan die vereistes van die veiligheidsprotokol van die Navorsingsadvieskomitee vir Veiligheid in Myne (Simrac) en Globale Navorsingsalliansie vir Mynbou (GMRA).
Dié toetse is in 2002 suksesvol afgehandel en die stelsel is deesdae verpligtend vir gebruik in al die groot myne in Suid-Afrika.
“Die ExploSpot-stelsel is 'n aktiewe ontploffingsonderdrukker en die antwoord vir enige moderne, hoogs-gemeganiseerde myn waar metaanontploffings groot veiligheidsgevare inhou,” verduidelik Späth.
“Metaangas is 'n nagmerrie vir enige steenkoolmyn, maar ook ander myne waar grondstowwe diep ontgin word. Behalwe dat dit uiters vlambaar is, is dit ook reukloos en weet die mynwerkers nie wanneer daar 'n lekkasie is nie.
“In China vind daar ten minste een ontploffing per week plaas en dié tipe ontploffings eis nagenoeg 12 000 lewens per jaar,” sê hy.
China produseer sowat 26 miljard ton steenkool per jaar.
China
Benewens sy fabriek by Pretoria, het Späth ook 'n fabriek in China gevestig waar die ExploSpot-stelsel vervaardig word. Altesaam 400 mense werk in dié fabriek.
Sover is daar reeds sowat 1 000 van sy ExploSpot-stelsels in China in bedryf, met die behoefte om oor die volgende vyf jaar nóg 85 000 van hierdie stelsels aan myne en ander instansies beskikbaar te stel, vertel Späth.
In 2014 het die Chinese regering hom met 'n Vriendskapstoekenning vereer. Dit is die hoogste toekenning aan 'n buitelander vir uitsonderlike diens in dié land, en 'n medalje van egte goud is aan hom oorhandig.
In Junie vanjaar beoog Späth om die stelsel in Australië bekend te stel, en twee maande later ook in Kanada.
Ander toepassings
Aangesien die optiese sensor enige vlam oombliklik waarneem en die stelsel die blusmiddel dadelik vrystel, kan dit ook in oorlogstoerusting gebruik word om lewensverlies te voorkom.
Daarom is Späth en sy span al genooi om die ExploSpot in Sirië op oorlogtenks te toets.
'n Haas is in 'n pantservoertuig geplaas, waarna dit met grofgeskud bestook is. Aangesien die toestel die vlamme dadelik kon blus, het die tenk nie uitgebrand nie en die haas is ongedeerd uitgehaal.
ExploSpot Systems het onlangs 'n kontrak ter waarde van US$280 miljoen met die Verenigde Arabiese Emirate gesluit ingevolge waarvan dié stelsel vir beveiling in pantsertuig gebruik gaan word, vertel Späth.
Hy sê dit span die kroon op baie jare van harde werk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie