Oud-WHS’ers treur oor legendariese Proppies Steyn
Die legendariese oudonderwyser mnr. Proppies Steyn is Sondag op Hentiesbaai dood.
Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom op Facebook in nadat dit bekend geword het die legendariese en geliefde mnr. Proppies Steyn is dood.
Talle oudleerlinge van Windhoek Hoërskool (WHS) het tydens sy lang onderwysloopbaan onder sy bekwame hande hul skoolloopbaan voltooi.
Sy dogter, me. Annemarie Fourie, sê haar pa is Sondagoggend omstreeks agtuur in die versorgingsoord op Hentiesbaai aan ‘n hartaanval dood. Hy was 82 jaar oud en het die afgelope sewe jaar aan Alzheimer se siekte gely.
Steyn, wat in 1960 as aardrykskunde-onderwyser by WHS ingeval het, is in 1936 op Petrus Steyn in die Vrystaat gebore. Dié dorp is na sy oupa vernoem.
Sy vrou, Mit (85), sê hy was van vroeg in sy lewe af ‘n uitblinker en het provinsiale kleure vir stoei verwerf.
“Nadat hy op Potchefstroom studeer het, het hy Suidwes-Afrika toe gekom. Hulle het onderwysers destyds aangemoedig om hier te kom skoolhou.”
Sy jare lange kollega en vriend, mnr. Klaus Linow, het hom gister as ‘n besonderse mens en leermeester beskryf. “Toe ek in 1962 by WHS begin skoolhou het, was hy al twee jaar daar. Hy was my leermeester by wie ek geleer het hoe om byvoorbeeld vraestelle op te stel."
Steyn en Linow het albei in die seunskoshuis gewoon.
“Dit was in die tyd van mnre. Willem Myburgh, Bull Dreyer en later ook Arend de Waal,” onthou Linow en noem die destydse koshuisvaders op.
Die Steyns was later jare self ook die inwonende hoofde van die Karlienhof-koshuis.
“Dié koshuis het sy naam aan die Karlienblomme (Poinsettias) te danke wat ek daar geplant het,” vertel tannie Mit. Sy was op haar dag ‘n bekende balletonderwyseres.
Fourie sê haar pa het benewens WHS ook by die Eros Meisieskool en die Pionier Seunskool in Windhoek skoolgehou. Hy is later as vakadviseur vir leierskap aangestel, wat meegebring het dat hy in die 1980’s by die vestiging van die Veldskool in die land betrokke was, sê sy.
Wyle Steyn is in huldeblyke op Facebook deur oudleerlinge as “’n groot karakter” beskryf wat baie lewens aangeraak het en kinders “benewens aardrykskunde, ook morele waardes geleer het”.
“Vir koshuiskinders was oom Proppies die pappa weg van die huis. Hy het menige kind getroos en gelei. Sal hom altyd onthou,” lui ‘n ander plasing.
Steyn laat afgesien van sy vrou en Annemarie ook sy seun, Francois, sy stiefseuns, Fritz en Wouter Maske, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.
‘n Gedenkdiens vir hom word Saterdag om 11:00 in die NG kerk op Swakopmund deur sy vriend, dr. Callie Opperman, gelei.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie