Oudjoggie deel uithouvermoë en visie
Joe Nawanga neem steeds aan kompetisies deel en rig sy geliefde sport af.
Tanja Bause – “Ek het op die Mondesa-gholfbaan geleer speel saam met ander joggies. Ons het die gholfbaan self begin, daar in die stof en sand in die buitewyke van Swakopmund waar ons gewoon het.
“My loopbaan en liefde vir die sport het ek aan dié gholfklub te danke, al was dit nie 'n regte klub nie,” sê Joe (Josef) Nawanga (44).
Joe is Namibië se eerste swart professionele gholfspeler, wat vandag nog in die Sonskyntoer in Suid-Afrika speel en gholf in Namibië afrig.
Hy is in die Iiyale-nedersetting in die Oshikotostreek gebore.
“My ma was 'n verpleegster by die Onandjokwe-hospitaal en my pa het op Walvisbaai by die visfabriek gewerk.”
Nadat sy ouers geskei het, het hy by sy ouma en oupa gaan bly waar hy met sy skoolloopbaan begin het. In 1979 het sy ma Swakopmund toe verhuis en Joe het vier jaar later by haar aangesluit.
“Ek moes op Swakopmund weer met sub A begin, dus was ek bietjie ouer as die ander kinders in my klas. In standerd 1 het ek 'n vriend gehad wie se broer 'n joggie was. Ek het straatsokker gespeel en nie in gholf belang gestel nie. Die broer het my gevra wat ek oor naweke doen en of ek wil saamkom Rössmund-gholfbaan toe om 'n joggie te word.”
Die kans om ekstra sakgeld te verdien, het Joe met beide hande aangegryp.
“Ek het al van kleins af daarvan gehou om my eie geld te verdien en geleenthede aangegryp om dit te doen. Dit was veral omdat my ma 'n enkelouer was en ons nie in oorvloed gelewe het nie. Ek wou ook wanneer ek iets sien waarvan ek hou dit vir myself kan koop. So die kans om geld te verdien, het my gelok en ek het op 'n Saterdag saam met die ander joggies by die Martin Luther-treintjie met 'n bord met 'Joggie' op gestaan en vir 'n saamrygeleentheid gewag.”
Dit was in 1988 toe Joe elf jaar oud was toe hy in 'n wit Citi Golf geklim het en op pad gholfklub toe was.
“Ek het niks van gholf geweet nie. My idee van gholf was ek gaan vir die bal kyk, iemand slaan die bal en ek gaan haal hom. Dan word jy betaal. Ek het gedink dit was so maklik soos dit. Ek het gou agtergekom dat dit nie so maklik is nie en moes begin leer.
“Ek het gebaretaal geleer om te wys waar die bal geland het. Ek het geleer om te kyk waar die bal is en wanneer hy my kant toe kom. Ek het baie daardie eerste dag geleer en die saadjie van gholf is geplant.”
'PROPELLERS' EN GEBARETAAL
Hy was dankbaar vir die ouer en meer ervare joggies wat die fondasie gelê het.
“Die gholfbaan was slegs vir lede en ons kon nie daar speel nie. Die klub was elke Maandag vir instandhouding gesluit en ons joggies het besluit om met ons eie gholfbaan in die buitewyke van Mondesa te begin. Ons het 'n passie vir die sport ontwikkel en wou dit uitbrei. Ons wou meer leer, meer betrokke raak en ons kennis verbreed.
“So het ons met 'n informele nege-putjie-gholfbaan begin en Maandae daar gespeel.
“My fondasie as gholfspeler is by die Mondesa-klub gelê. Ons was 'n klomp joggies wat mekaar geleer het. Jy moet ook onthou ons almal het nie ons eie stokke gehad nie. Ons het een gholfsak met 20 stokke gehad. Ons het onsself in groepe van tien ingedeel en elke ou het 'n stok gekry wat hy gedra het. Wanneer jy jou hou voltooi en 'n ander stok gesoek het, het jy vir die ou wat dié spesifieke stok het in gebaretaal verduidelik dat jy die stok nodig het.
“Ons het die metode van stokgooi vervolmaak. Ons het die stokke soos skroefwaaiers (propellers) vir mekaar gegooi en ons het nooit een gebreek nie. Op dié manier het ons saam geleer, gespeel en pret gehad op die informele Mondesa-gholfbaan.”
Volgens Joe is dit waar sy passie vir gholf begin het. Die joggies het met 'n kitty begin waarin almal geld gesit het. Hulle het gholf gespeel en die wenner is met die geld huis toe.
“Ek was nie die beste gholfspeler nie en een van die ouer joggies het my later gevra wat ek daar doen? 'Ons vat net jou geld, hoekom bly jy nie by die huis nie?'
“Ek het net altyd gesê ek is daar om te leer.”
KEERPUNT
Terwyl hy nog op skool was, het Joe 'n vennootskap met Hubert Faber begin. Faber het twee keer 'n week gholf gespeel en Joe was sy joggie.
“Op Woensdae het hy nege putjies gespeel en ek het N$10 ontvang. Saterdae het hy 18 putjies gespeel en ek het N$20 gekry. Ons het 'n ooreenkoms gehad waar hy my die helfte van die geld betaal en die res vir my gespaar het. Dié geld het ek aan die einde van die jaar gekry wat beteken het dat ek aan die einde van die jaar baie geld gehad het om Kersgeskenke te kan koop en myself te bederf.
“Ek was nie 'n las vir my ma nie.
“Ons het in 1992 met die vennootskap begin, wat sewe jaar geduur het .”
In 1994 het Joe by Rössmund as 'n lid aangesluit.
In 1997 was daar 'n afdeling by die Rössmund Ope vir juniors wat nie lid van enige klub in die land is nie en ook vir joggies.
“Ek het ingeskryf alhoewel ek nie gholfstokke gehad het nie. Ek het Faber vir sy ou stokke gevra en hy het hulle vir my geleen. Ek het ingeskryf en gewen. Omdat ek beter gespeel het as hy, het hy vir my sy stokke gegee.
“Die jaar daarna het ek die Windhoek Ope gewen. Ek was die eerste swart Namibiese speler wat dié toernooi twee keer ná mekaar gewen het,” het Joe vertel.
GROTER UITDAGINGS
'n Jaar later het hy nasionale kleure ontvang en sy matriek klaar geskryf. Hy het dié jaar ook weer die Rössmund Ope gewen en het Namibië se nommer een amateurspeler geword. Dié status het hy behou totdat hy in 2002 Suid-Afrika toe is.
“Ek het 'n amateurrekord van 17 toernooiseges, insluitend die Namibiese Ope twee keer.”
Tien jaar gelede het hy 'n borgskap ontvang om 'n halfjaarkursus as professionele speler by die Houghton Golf Academy in Johannesburg te volg. Nadat hy die program suksesvol voltooi het, het hy in November 2001 professioneel geword.
'n Jaar later het hy 'n eenmalige borgskap ontvang wat dit vir hom moontlik gemaak het om as professionele speler aan die Sonskyntoer in Suid-Afrika deel te neem.
Joe neem steeds aktief aan die Sonskyn-toernooie deel, hoewel die toer verlede jaar ietwat deur die Covid-19-pandemie gekelder is.
“Ek hoop dat ek vanjaar weer deel daarvan kan wees. Ek wil my jaar hopelik verdeel tussen gholf speel en mense leer om gholf te speel, sodat ek van my ervaring met ander gholfentoesiaste kan deel. Ek wil ook die wanopvattings verander wat mense steeds van gholf het – dat dit vervelig is, deur ryk ou mense gespeel word of te duur is. Veral op voetsoolvlak wil ek dié wanopvattings verander.”
Sy topprestasie in 'n professionele toernooi was die sewende plek in die FNB Botswana Ope in 2005.
Op die Sonskyntoer se ranglys was hy in 2005 in sy beste posisie (104de) ná 19 toernooie en in 2019-2020 was hy 143ste. “In 2009 het ek twee toekennings ontvang, een vir die Gijima AST Pro-Am in Mpumalanga en die Kings Cup-toernooi in eSwatini.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie