Oudkrieketspeler wil ultra-afstand kafdraf

Die internasionale 4 Deserts Race vind weer vanjaar in Namibië plaas.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Net een Namibiër, ’n voormalige nasionale krieketspeler, neem vanjaar aan die moordende ultramarathon bekend as die 4 Deserts Race Sahara (Namibia) deel.

Die wêreldbekende ultramarathon gaan vir die tweede jaar in die Skedelkus plaasvind met Tobias Verwey (35) wat Namibië se naam hoog gaan hou. Die resies spring op 30 April weg.

Verwey, gebore op 2 November 1981, is geen onbekende sover dit die eise van internasionale sport betref nie. Hy het in beide 2000 en 2002 sy land by die o.19 Wêreldbeker verteenwoordig. In die laaste dekade het hy die Namibiese krieketspan ook reeds in al drie formate (T20, eendagkrieket en eersterangse krieket) verteenwoordig.

Sedertdien het Namibiese kriekettoere hom reeds na bestemmings soos Pakistan en Bermuda as regshandige kolwer, paaltjiewagter en soms ook as draaibouler geneem. In Desember 2006 het hy sy eerste honderdtal in eersterangse krieket vir die Namibië teen die Verenigde Arabiese Emirate geslaan. Sy 114 lopies nadat hy as kolwer nommer nege ingestap het, het tot ’n groot oorwinning bygedra.

Verwey het op Swakopmund grootgeword en skoolgegaan, maar hy woon al jare in Windhoek waar hy in die konstruksiebedryf werk.

Hy sê die rede waarom hy aan die 4 Desert Race gaan deelneem, is omdat hy van hardloop hou.

“Terwyl ek krieket gespeel het, was my fiksheid altyd goed en ná my krieketloopbaan het ek begin hardloop om fiks te bly,” sê Verwey.

Hy het al die Visrivier-ultramarathon oor 100 kilometer twee keer gedoen; so ook die Otter African Trail en Sossusvlei se 100 km een keer.

Verwey sê hy het al in Desember begin oefen vir die uitdaging waarin deelnemers al hule benodighede self moet saampiekel.

“Ek het van dag een af met my rugsak geoefen. As jou rugsak meer as 15 kg weeg, gaan jy sukkel. Ek gaan dit probeer regkry dat my rugsak nie swaarder as 10 kg is nie.”

Daar is ’n voorgeskrewe lys van wat deelnemers in hul rugsakke móét inpak en wat nie. Verwey sê hy gaan byvoorbeeld net ’n slaapsak en nie ’n slaaprol inpak nie en op die grond slaap.

“Ek gaan my bed mis . . .”

Vir kos gaan hy gedroogde pakkies kos inpak waar hy net water kan byvoeg, en vir ontbyt hawermout. Vir versnaperinge gaan hy biltong en jellielekkers geniet.

Deelnemers moet 2 000 kalorieë per dag inneem om hul energievlakke hoog te hou. Verwey sê hy gaan as hy warm kry, waatlemoen en spanspek mis.

Hy meen die moeilikste deel van die marathon gaan die langste skof van 160 km op een dag wees.

Verlede jaar het drie Namibiërs aan die marathon deelgeneem, naamlik Alfeus Haushona, Hannes Smit en Lourens Rademeyer. Smit het uit altesaam 212 aanvanklike deelnemers 48ste geëindig, Rademeyer 52ste en Haushona 62ste.

Die drietal het dié resies van 250 km oor sewe dae in die woestyn as een van die mees ongelooflike ervaringe in hul lewe beskryf. Volgens die organiseerders van 4 Deserts is die drie Namibiërs “’n aanwins vir hul land en hulle was baie gewild onder ander deelnemers”.

Verwey sê hy ken vir Rademeyer en “ek het al ’n paar koffies voor en ná sy deelname verlede jaar saam met hom gedrink”.

Die 4 Deserts internasionale ultramarathon-reeks word in vier woestyne gehardloop, naamlik die Atacama Crossing in Chile, Gobi March in China, The Last Desert in Antarktika en die Sahara Race wat vir die tweede keer vanjaar in Namibië sal plaasvind.

Die konsep is in Hongkong in Februarie 2002 deur die Amerikaner Mary Gadams, ’n bekende avonturier en voormalige beleggingsbankier, in die lewe geroep.

Die Sahara Race het voorheen in Egipte in 2012 plaasgevind, maar weens politieke onstabiliteit het dit in 2014 na Jordanië geskuif en verlede jaar na Namibië.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer