Oudlanddros in getuiebank
Oudlanddros in getuiebank

Oudlanddros in getuiebank

Die voormalige landdros van Oshakati wat klagte van onder meer korrupsie en bedrog in die gesig staar, se saak is vandeesweek in die hoërhof hervat.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Me. Melaney Theron wat aangekla word van korrupsie en ander klagte wat uit haar diens as landdros op Oshakati spruit, het eergister in die getuiebank verskyn om haar saak te stel.

Sy is in Augustus vanjaar vrygespreek op drie van die twintig klagte van onder meer korrupsie, dwarsboming van die gereg en bedrog teen haar.

Theron het voor regter Nate Ndauendapo getuienis gelewer tot die effek dat sy nie met ''n sekere mnr. Namweya, ''n voormalige kollega, oor die weg gekom het nie en dat hy onder die voorwendsel dat hy administratiewe werk moes doen, hofwerk vermy het totdat sy later in vier howe per dag moes verskyn. Sy het verder beweer dat Namweya die polisie gewys het hoe om die ondersoek teen haar te doen en dat sy van mening is dat “hy hierdie hele ding teen my opgemaak het”.

Oor staatsgetuie mnr. Paulinus Kakelo wat beweer dat Theron hom op 19 Augustus 2011 gebel het om sy N$1 000 verkeersboete by haar kantoor by die Oshakati-landdroshof te betaal, het sy getuig dat sy op 15 Augustus in hegtenis geneem is en dus nie vir die oproep verantwoordelik was nie. Op die regter se vraag waarom Kakelo haar sou betrek, het sy geantwoord: “So baie het gesê hulle het geld aan my gegee wat hulle nooit gedoen het nie, dus kan ek nie sê wat die geestesgesondheid in mense se koppe is nie.”

Die staat beweer Theron het in 2011 haar posisie as landdros gebruik om op ''n korrupte wyse duisende dollar oor ''n tydperk van vier maande in te samel. Sy het na bewering tussen Mei 2011 en Augustus 2011 aan mense wat boetes vir verkeerskaartjies moes betaal, gesê dat sy die boetebedrag kan verminder en dat die geld direk by haar betaal kon word.

Die staat beweer dat dié geld wat by haar kantoor betaal is, nooit aan die klerke van die hof oorbetaal is nie. Sy het hierdie geld glo vir haar persoonlike voordeel gebruik.

Volgens die klagstaat het sy die klagte teen die beskuldigdes sonder die toestemming van die staatsaanklaer teruggetrek terwyl sy geweet het dit onwettig is.

Theron het hierdie oortredinge­ glo probeer verberg deur valse inskrywings in die hofrekords te maak. Sy het, in sommige gevalle, glo op die hofrekords aangeteken dat die sake teen die beskuldigdes teruggetrek is of dat hulle reeds gewaarsku is nadat hulle skuldig gepleit het, terwyl hulle in werklikheid nie in die hof verskyn het nie.

Die staat beweer ook dat sy lasbriewe wat teen die vermeende verkeersoortreders uitgereik is, gekanselleer het.

Prokureur Garth Joseph tree namens Theron op en advokaat Simba Nduna verteenwoordig die staat.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!