Oudpolisieman vies vir hervestigingsbeleid
Oudpolisieman vies vir hervestigingsbeleid

Oudpolisieman vies vir hervestigingsbeleid

Nadat ''n voormalige polisiebeampte vir jare ''n gedeelte van ''n plaas gehuur het, moes hy nou sy plek weens hervestiging afstaan.
Francoise Steynberg
Catherine Sasman



''n Oudpolisiebeampte is oorgehaal om saam met gemeenskappe in die Suide te staan wat dreig om hervestigingsplase te beset.

Mnr. Asser Kapukare sê dit kom nadat sy aansoek om daar hervestig te word, misluk het.

Gemeenskappe het tydens die Namibiese Forum vir Nie-regeringsorganisasies (Nangof) se raadplegende vergaderings oor grondhervorming in Oktober die dreigement oor besetting gemaak aangesien hervestiging na bewering onregverdig en op ''n korrupte manier uitgevoer word. Hulle het ook kapsie gemaak omdat hoofsaaklik mense van ander streke in die Suide hervestig word, tot nadeel van plaaslike gemeenskappe.

Kapukare het aansoek gedoen om op Nunniboom Gedeelte B in die Hardap­streek hervestig te word waar hy sedert Januarie 2013 tot einde Julie ''n gedeelte van die grond van die eienaar gehuur het.

Die aanvanklike eienaar, ene mnr. J. Goosen, het intussen die plaas aan die regering verkoop. Kapukare het toestemming van die regering gevra om tot die einde van Julie sy diere op die plaas aan te hou.

Intussen het hy aansoek gedoen om daar hervestig te word, maar het geen antwoord van die kantoor van die Hardap-goewerneur, me. Esme Isaack, óf die streek se hervestigingskomitee ontvang nie, ondanks bewyse dat die briewe wel deur die kantore ontvang is, sê Kapukare.

Die ministerie van landbou, water en bosbou het in Maart vanjaar ''n brief aan die ministerie van grondhervorming geskryf waarin dit sê Kapukare moet vir hervestiging oorweeg word omdat hy sedert 2004 ''n kommunale boer was.

Die ministerie het ook gesê Kapukare se kudde het te veel geword vir hom om op die stukkie grond op Nunniboom voort te boer. Die Hardap­streekraad het voorts in Maart voorgestel dat Kapukare vir hervestiging oorweeg moet word.

Kapukare het egter ''n uitsettingsbevel ontvang nadat Nunniboom as ''n hervestigingsplaas geadverteer is.

Uit desperaatheid het hy in ''n brief aan die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, versoek om op Nunniboom hervestig te word. Nujoma het die aansoekproses aan Kapukare verduidelik en gesê hy moet met die aansoek voortgaan.

Die ministerie van grondhervorming het in Oktober aangekondig dat mnr. Josef Kamakende van Kavango-Wes hervestig is op Nunniboom B, wat Kapukare voorheen gehuur het.

Kapukare moes intussen sy kudde van Nunniboom verwyder, wat hy vir vier maande 60 km van daar op ''n padreserwe tussen Gibeon en Mariental kan hou. Dit ná die ingryping van die adjunkminister van grondhervorming, mnr. Bernardus Swartbooi.

“Baie van my diere het in die proses gevrek. Ek het geen hulp gekry nie,” het Kapukare gesê. “Waarheen gaan ek daarna? Moet ek pad toe? Ek het niemand om my by te staan nie. Ek is van die Otavi-omgewing en ek weet hoe mense met hul diere in die Agra-kampe daar moet sit terwyl baie ministers plase in daardie omgewing het.

“Niemand gee aandag aan ander se sorge nie. Dit is tyd dat ons wakker word,” het Kapukare gesê.

Volgens Kapukare is Swartbooi die enigste een wat simpatiek teenoor hom opgetree het.

“Ek het vir meer as 26 jaar misdaad beveg. Moet ek nou my diere terug na Otavi se krale neem? Swartbooi was die enigste een wat my gehelp het. Ons hou hom bo. Ek wens daar was meer ministers soos hy wat vir sy nasie werk.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!