Oudsoldate briesend oor PG se uitlatings
Oudsoldate briesend oor PG se uitlatings

Oudsoldate briesend oor PG se uitlatings

Catherine Sasman
Catherine Sasman - Voormalige SWATF- en Koevoetlede is woedend oor opmerkings van die prokureur-generaal, mnr. Sacky Shanghala, wat hulle beskryf het as “honde van oorlog” en “bloeddorstige moordenaars” wat nooit veteraanstatus sal kry nie.
Shanghala het verlede week in die parlement in reaksie op vrae deur mnr. Benson Kaapala van die Workers’ Revolutionary Party (WRP) oor die kwessie geantwoord: “As jy ‘n bloeddorstige moordenaar in uniform gister was, moet ons jou beloon met heldestatus? Geensins nie.”
Hy het ook opgemerk dat die oudsoldate wat reeds bykans vier maande by die Kommandosaal in Katutura uitkamp terwyl hulle op die regering wag om hulle as veterane te erken, moet eerder na hul huise terugkeer om na hul geliefdes om te sien.
“Maak vrede met jou gewete en weet dat ons tyd op aarde beperk is, eerder as om jou tyd op wensdenkery en griewe te mors,” het hy bygevoeg.
Shanghala het ook gesê dat oudsoldate net soos enige ander Namibiër diens by polisiekantore en hospitale sal ontvang en dat die landsgenote as een nasie moet optree.
Shanghala het gesinspeel dat sy ma, me. Ndamono Fiina Ndeskuulilwe Shanghala, wat een van die slagoffers in die bomaanval op die voormalige Oshakati Barclays Bank op 19 Februarie 1988 was, ‘n slagoffer van SWATF en Koevoet was.
Hieroor het hy gesê: “Ons moet onthou dat die wonde van sulke gruweldade nooit gesond word nie. Jy vergeet nooit nie. Ons verkies om te vergeet.”
Oudsoldate by Kommandosaal was gister (25 April) baie emosioneel oor wat hulle as ‘n blatante belediging van iemand “wat kleingeestig is” en “kinderagtig dink”.
Hulle het benadruk dat die Namibiese regering voor onafhanklikwording ingestem het op nasionale versoening soos vervat in Resolusie 435.
Die voorsitter van die Namibiese Oorlogsveterane (Namvet), mnr. Jabulani Ndeunyama, het bygevoeg dat die oudsoldate nie status as veterane van die vryheidstryd óf heldestatus soek nie, maar wil bloot as oorlogsveterane erken word.
Ndeunyama het ook gesê dat dit nie SWATF of Koevoet is wat verantwoordelik vir die Barclays Bank-bomaanval was nie, maar ‘n Swapo-kader, Leonard Sheehama.
“Die onsinnige opmerkings van Shanghala sal nie in ‘n onafhanklike Namibië geduld word nie. Die woorde wat hy gebruik het, is baie beledigend en gevaarlik in ‘n gebroke nasie. Sy onverantwoordelike emosionele uitlatings is nie net teenstrydig met nasionale versoening nie, maar ook wetlik foutief,” het Ndeunyama gesê.
Die oudsoldate het gesê hulle sal voortgaan met die protes by Kommandosaal en dat hulle moontlik op 3 Mei na die gebou van die Verenigde Nasies (VN) gaan opmars om te vra dat die VN ingryp aangesien die Namibiese onafhanklikwordingsproses onder toesig van die VN behartig was.
Ndeunyama het ook gesê die oudsoldate sal by die Kommandosaal aanbly tot tyd en wyl pres. Hage Geingob met hulle vergader.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!