Oudste rekord in die boek wink vir Ivan Geldenhuys
In die diskusgooi het Ryan Williams sy eie senior nasionale rekord opnuut verpletter.
Andrew Poolman - Die belowende 400-atleet Ivan Danny Geldenhuys het die naweek in Pretoria die wêreld se vinnigste tyd van die jaar sover deur 'n o.20-atleet opgestel.
Geldenhuys het sy persoonlike beste tyd beduidend tot 46.29 sekondes verbeter toe hy die o.19-finaal by die Noord-Gauteng provinsiale kampioenskap by die Pilditch-stadion gewen het.
Die webblad van Wêreldatletiek (tevore die IAAF) het gister nog gewys dat Reece Holder van Australië se 46.44 twee maande gelede die vinnigste 400-tyd sover vanjaar vir o.20-mans is.
Volgens me. Leoni van Rensburg het Geldenhuys ook die nasionale o.19-rekord van Gerhard Barnard (voor onafhanklikwording 'n Springbok) oortref wat sedert 1985 vir drie-en-'n-half dekades op 46.92 gestaan het.
Die 19-jarige Geldenhuys stel dus nou sy visier ten volle in op die heel oudste rekord wat tans in die Namibiese boeke opgeteken is. Daniel Haitembu se 46.14 in 'n 400-wedloop in Bloemfontein op 26 April 1980 sal volgende maand vir 'n volle veertig jaar ongeskonde bly staan.
Die oudskolier van Windhoek Hoërskool en matrikulant van Windhoek Gimnasium in 2019 het vanjaar in rekeningkunde aan Akademia in Pretoria begin studeer. Hy het in Februarie sy vorige persoonlike beste van 46.83 opgestel.
“Dit was 'n baie groot oomblik en 'n ongelooflike gevoel om die beste tyd ter wêreld vanjaar op te stel.
“Ek is bewus van die Namibiese rekord en ek weet en glo en bid dat ek dit in my volgende byeenkoms gaan oortref,” het Geldenhuys gister gesê.
RYAN OORTREF SY REKORD
Ryan Williams het Saterdag sy eie Namibiese senior rekord in die diskusgooi opnuut verpletter.
Die boorling van Gobabis het by Noordwes se provinsiale kampioenskap op Potchefstroom die werpskyf 'n allemintige 55.10 meter gegooi.
Die ou nasionale rekord wat hy verlede jaar in Duitsland opgestel het (48.45) is reeds in die vergetelheid. Hy het in Februarie op Potchefstroom reeds 'n 54.95 behaal.
Williams, wat volgende week sy 20ste verjaarsdag inwag, moes nogtans Saterdag met die silwerposisie in die diskusgooi tevrede wees toe sy Pukke-klubmaat Ignatius Marais met 56.52 gewen het.
• Nog 'n Namibiër vir die Pukke, Ané Rautenbach, het by dieselfde byeenkoms op Potchefstroom in die naellope uitgeblink.
Rautenbach het twee silwermedaljes behaal, naamlik in die 400 meter (tweede in 52.84 sekondes) en in die 200 meter finaal (23.65).
Die gebore Walvisbaaier is in beide items deur die wenner Line Kloster van Noorweë geklop (23.53 in die 200 en 52.43 in die 400).
Met Rautenbach se nuwe persoonlike beste tyd in die 200 mag sy nou maar begin droom van die nasionale rekord van 23.34 sekondes, wat Globine Mayova in 2013 opgestel het.
Rautenbach se beste 100 meter-tyd (11.77) is net die vorige naweek by 'n ligabyeenkoms opgestel.
GOUD VIR HAITENGI
Afgelope Saterdag by die Sentraal-Gauteng provinsiale kampioenskap het Roger Haitengi met 16.20 meter in die driesprong gewys dat hy ook nog goed op dreef is.
In die kleure van die Universiteit van Johannesburg het hy 'n goeie entjie verder as sy klubmaat Tshwanelo Aabode (16.01) te lande gekom.
Haitengi was vroeër die enigste Namibiese kwalifiseerder vir Wêreldatletiek se binnenshuise wêreldkampioenskap wat juis die afgelope naweek in Nanjing, China, sou plaasvind voordat dit vanweë die uitbreking van Covid-19 gekanselleer is.
Haitengi, 'n voormalige bronsmedaljewenner by die Afrika-kampioenskap, se beste vertoning in die driesprong bly die 16.78 wat hy as die huidige nasionale rekord in Februarie 2016 in Johannesburg opgestel het.
• Ida-Marie Smeer (Windhoek Hoërskool, o.17) het die naweek haar persoonlike beste in hoogspring (1.67 m) behaal by die NSSU subnasionale kampioenskap wat in Windhoek aangebied was.
Smeer se hoogte is die beste vanjaar deur enige Namibiese vrou.
Subnasionale kampioenskappe is die afgelope naweke in Windhoek, op Swakopmund, Oshakati en Rundu gehou. Dié prestasies word gebruik om die beste agt of 12 atlete per item na die NSSU se nasionale kampioenskap te nooi, wat voorlopig steeds vir 17 April geskeduleer is.
Op Swakopmund het die o.17-hoogspringer Chrislene Klein-Nienaber die naweek op 1.60 oorgeseil.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie