Oudverpleegster met 'n passie vir kinders
Die Lebensschule is 'n skool vir kinders met spesiale behoeftes op Rehoboth en was 'n droom van me. Kathy Hampe.
Tanja Bause
Die Lebensschule op Rehoboth vier vanjaar hulle 21ste bestaansjaar.
Dié skool vir gestremde kinders was die droom van me. Kathy Hampe wat deur besighede se ondersteuning en deur die gemeenskap van Rehoboth gebou is.
Kathy is op Rehoboth gebore, het daar skoolgegaan en grootgeword. In 1976 het sy na Windhoek getrek om verpleging te studeer. Ses jaar later is haar man na Ruacana verplaas en hulle het daarheen getrek.
“Ek kon nie daar verpleeg nie omdat ek nie die taal magtig was nie. Ek het 'n gemeenskapstuin en naaldwerkklasse begin om myself besig te hou. Ek het ook my eerste kindergarten, Thokozani, wat geluk in Zoeloe beteken, begin,” het sy gesê.
Kathy het tussendeur na Rehoboth teruggekeer om te kyk hoe dit met die dorp en die mense gaan.
In 1998 het sy teruggetrek Windhoek toe en by die Rooms-Katolieke hospitaal as verpleegster en later vir 'n oogspesialis gewerk.
“Een dag was die dokter besig om 'n pasiënt se oog te opereer en my gedagtes was by Rehoboth en nie by die werk óf die operasie nie. Ek het daar en dan besef ek kan nie so aangaan nie en ek moes 'n besluit neem.”
Sy het besluit om 'n kultuurfees op Rehoboth te reël.
“Terwyl ek so tussen die huise deurgeloop het, het ek opgelet daar het verskriklik baie gestremde mense en kinders in die dorp gewoon. Ek het dit gesien, maar het eers die kultuurfees gereël. Alles het met kultuur begin. Ek het in 2000 en in 2002 die fees gereël. Ons het stories vertel en vertel hoe ons voorvaders rieme en velle gelooi, koeie gemelk en room gemaak het. Dit is alles goed wat ons vergeet het en tog so deel van ons kultuur was en is.”
Tydens die feeste is haar aandag weer eens op die kinders gevestig.
“Ek het agtergekom daar was geen kindergarten of skool vir spesiale kinders nie. Hulle het by die huis gebly en 'n ouer moes altyd by hulle wees. Dit verg baie van die ouer en ook almal in die huis.”
Volgens haar moes die ouers hul kinders Windhoek toe neem om arbeids- en/of fisioterapie te ontvang.
“Dit is baie geld. As die ouers kon leer hoe om die oefeninge self met hul kinders by die huis te doen, sou dit vir hulle baie help.”
In 1999 het sy die Lebensschule begin en in 2004 het die dorpsraad vir haar 'n stuk grond gegee waarop sy die huidige skool gebou het.
“Ons het van die begin af omtrent tien keer getrek. 'n Begrafnisondernemer het ons selfs een keer gehuisves. Die kiste was in een kamer en ons en die kinders in die een langsaan. Dit was soms baie depressief om al die kiste te sien, maar ons het 'n dak oor ons kop gehad en kon aangaan.”
Nadat sy die grond ontvang het, het 'n plaaslike bank ook N$30 000 geskenk en kon sy begin bou.
“Die Rehoboth-gemeenskap het ingespring en gehelp. Daar was 'n pa wat saam met sy familie en vriende gebou het. Iemand anders het vensters kom insit en ander het geverf. 'n Sokkerspan het bakstene aangedra. Almal was vrywilligers. Mense het gehelp en gegee wat en hoe hulle kon. Sommige mense het selfs net kos kom aflaai sodat ons die bouers kon voed.”
Kathy het in Windhoek gewoon en elke dag heen en weer gery om by die skool te wees.
“Ek het later in Rehoboth begin oorslaap omdat ek te vroeg uit Windhoek moes ry. Die kinders word elke oggend by hul huise of 'n gesamentlike punt opgetel en in die aande afgelaai. Nou het ek vir die afgelope paar jaar iemand wat die kinders vir my optel en ek kan bietjie later uit Windhoek ry.”
Daar is tans 23 kinders by die Lebensschule wat daagliks fisieke, arbeid- en spraakterapie ontvang. Daar is tien werkers wat by die skool werk. Die Lebensschule spog intussen ook met 'n tuin.
Kathy wil ook begin om kinders met sig- en gehoorprobleme te help.
“Die kinders moet Windhoek toe gaan om braille en gebaretaal te leer. Dit beteken hulle moet in 'n koshuis woon. Wanneer hulle terug huis toe kom kan niemand die kinders verstaan nie, want niemand anders praat gebaretaal nie. Ons moet dit vir die kinders én hul families hier op Rehoboth leer. Dieselfde ook met braille lees.”
Kathy sou graag die leisels van die Lebensschule wou oorgee, maar sy weet nie aan wie nie.
“Ek weet nie wie by my sal kan oorneem nie. Dit moet 'n persoon wees met 'n passie vir spesiale kinders en baie geduld. Die persoon moet ook 'n mediese agtergrond hê, maar dit moet ook 'n persoon wees wat nie baie geld nodig het nie. Die salaris is min en mense wat van hulle salaris alleen moet lewe sal dit nie kan doen nie. Daar is ook geen mediese- of pensioenvoordele nie. Dit is baie moeilik om iemand te kry wat feitlik vir niks sal kom werk nie,” het sy gesê.
Volgens Kathy gee die kinders haar baie vreugde en kan 'n klein dingetjie soos 'n kind wat met 'n kryt op 'n muur teken haar dag opbeur.
“Wanneer een van ons kinders met kryt op die muur teken, beteken dit so veel. Dit beteken die kind weet wat kryt is en waarvoor dit gebruik word. Dit beteken die kind weet hoe om die kryt vas te hou en kan teken of skryf. Wanneer dit gebeur is niemand kwaad nie, ons is opgewonde en roep al die ander kinders. Ons kyk dan saam na die prent en raai wat die kind geteken het. Dit is amper soos wanneer jy vir wolke kyk en moet raai wat jy sien. Die kinders is baie spesiaal en die kleinste vordering is vir ons 'n reusevreugde.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie