Oudvlugtelinge stamp koppe met regering
Oudvlugtelinge stamp koppe met regering

Oudvlugtelinge stamp koppe met regering

Meer as 500 voormalige Angolese vlugtelinge is in 'n regstryd met die Namibiese regering gewikkel.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – 'n Groep van 538 Angolese wat in die Osire-vlugtelingkamp woon, het 'n regsgeding teen die regering aanhangig gemaak en beskuldig hulle daarvan dat hulle hulle uit die kamp wou dryf.

Die regering voer aan hulle woon onwettig in Osire omdat hul vlugtelingstatus in 2012 verval het. Volgens die regering weier die groep om in die samelewing te integreer of na Angola terug te keer.

“Hulle weier om die maatreëls wat vir plaaslike integrasie ingestel is te volg en hulle het eise gemaak waartoe hulle nie geregtig was nie,” het mnr. Likius Valombola, die kommissaris van vlugtelinge in die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, in 'n beëdigde verklaring gesê.

Hy het verduidelik die vlugtelinge eis huisvesting of erwe en geld uit 'n fonds wat nog nooit bestaan het nie.

“Die voormalige Angolese vlugtelinge is nie meer geregtig om in Osire-vlugtelingkamp te woon nie. Hulle is nie meer vlugtelinge nie,” verduidelik hy in verwysing na 'n ooreenkoms van die Verenigde Nasies in 2012.

Boonop beklemtoon hy die opsie om in die samelewing te integreer eerder as om na Angola terug te keer, maak hulle nie geregtig op gratis grond nie.

“Hulle was duidelik ingelig dat hulle nie huise, of erwe, of grond sou ontvang nie,” beklemtoon hy.



'INTEGRASIE WAS 'n FIASKO'

Agt Angolese mans het die regsgeding namens die 538 Angolese teen die eerste minister, die immigrasie­ministerie en die kantoor van die Verenigde Nasies (VN) se vlugteling­agentskap (UNHCR) in Suid-Afrika aanhangig gemaak.

Hulle eis nie net grond en die herstel van hul ondersteuning en vlugtelingstatus nie, maar beskuldig ook die regering dat hulle in 2018 die weermag ingestuur het om hulle uit die kamp te verjaag.

Hulle vra die hof om die regering te beveel om gewelddadige dreigemente teen hulle te staak en hul vlugtelingstatus te herstel, wat vir hul toestemming gee om in die kamp te bly.

“Ons, die familie van 538 oorblywende voormalige Angolese vlugtelinge, sal nie die Osire-vlugtelingkamp verlaat voordat die integrasieproses volledig geïmplementeer is met die toekenning van huise of boumateriaal vir elke gesin nie,” skryf hulle in hofstukke.

Hulle sê hul integrasie “was 'n groot fiasko. . . en die werklikheid is lagwekkend”.



HARDKOPPIG

Valombola beklemtoon in sy beëdigde verklaring die UNHCR se besluit van 2012 om vlugtelingstatus aan Angolese burgers te onttrek, het die vlugtelinge die keuse gegee om te bly en te integreer of terug huis toe te gaan.

“Hulle is meegedeel die Namibiese regering en die UNHCR sou hulle nie van grond of erwe voorsien nie, maar dat hulle die grond of erwe self sou moes aanskaf.”

Die vlugtelinge is ingelig as hulle nie hulself kan onderhou nie, moet hulle die VN om hulp nader om na Angola gerepatrieer te word.

“Voormalige vlugtelinge is nie geregtig op meer as waarop Namibiese burgers geregtig is nie. Hulle moet die wette van Namibië gehoorsaam soos enige ander persoon in Namibië,” het Valombola gesê.

Hy het gesê die voormalige vlugtelinge bly onwettig in die Osire-vlugtelingkamp, maar dat die regering hulle in hierdie stadium nog nie verwyder het nie aangesien besprekings nog aan die gang is. Hy het ontken die weermag is in enige stadium gebruik om hulle te verdryf.



GEEN VN-GELD

Die Angolese vlugtelinge beweer die UNHCR het US$80 miljoen aan Namibië gegee om met die integrasie te help, maar die regering ontken dit.

Die UNHCR het in Augustus 2020 aan die ministerie van binnelandse sake bevestig dat geen so 'n bedrag ooit deur hulle aan Namibië begroot of oorhandig is met betrekking tot die Angolese vlugtelinge nie.

Die UNHCR se Suid-Afrikaanse verteenwoordiger, mnr. Leonard Zulu, het uitgewys: “Wat belangrik is, is dat die voormalige vlugtelinge uit Angola hulp vra vir hul plaaslike integrasie en die UNHCR is daar om hulle te help binne die raamwerk van 'n goedgekeurde regeringsprogram.”

Die vlugtelinge verteenwoordig hulself in die saak en adv. Heather Harker verteenwoordig die verdediging.

Die saak het verlede Woensdag voor hoërhofregter Kobus Miller vir 'n konferensieverhoor gedien. Geen nuwe hofdatum is bepaal nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!