Ouers moet hand in eie boesem steek
WILLEM DE WET SKRYF:
Voorspoed aan alle kamerade, kollegas, vriende, vreemdelinge en die een of twee vyande wat ek dalk mag hê. Bestes vir 2022!
Ek lees vanoggend in die koerant dat daar ouers is wat baie kwaad is vir die stelsel omdat hulle kinders 40 in ’n klas ingeprop word en daar elemente daar sit wat geen belang het by skoolgaan nie, maar net die bank vol sit oor die wet hom verplig om daar te weea. En dat daardie elemente die rede is waaroor onnies gedemotiveerd is en kinders nie die aandag en toewyding geniet wat hulle moet nie, en so aan en so aan. Alles is waar!
En die staat staan in die beskuldigde bank en met reg so, want hulle het op hulle skof oor die laaste 30 jaar die onderwysstelsel en -infrastruktuur laat verval en dit toegelaat om te verval tot wat dit vandag is. Kyk na die toestand van die infrastruktuur, die tekort aan klaskamers, die uittog van leerkragte uit die bedryf, die tekort aan opvoedkundige materiaal en dan die totale gebrek aan ’n plan om die dilemma om te draai en reg te stel. Die regering, in hul onkunde, is besig om jongelinge met onbeperkte potensiaal te ontneem van die fundamentele reg tot ’n goeie opvoeding, wat op sy beurt weer die anker en bousteen is vir toekomstige ekonomiese bemagtiging, opheffing, onafhanklikheid, selfstandigheid, groei en vooruitgang.
Soos ou Gert die ander dag sê, ons is tans besig om ’n generasie van “car guards”, boemelaars en Facebook-dromers op te lei wat ons land en sy mense definitief nie in die toekoms na nuwe hoogtes gaan lei nie. Dis ’n onreg wat die jeug aangedoen word en ons land van die brawes gaan nog lang trane huil wanneer die dowwe kol begin om die nuwe generasie leiers te word. Let wel, nie almal oor die selfde kam geskeer, maar tyd het ook bewys dat dié wat eintlik die wa se volgende touleiers moes wees, almal die buitewêreld in vlug op soek na geleenthede sonder teuels in die bek of stertjies aangeknoop.
Die verval van ons jeug kan ook nie alles voor die regering se deur gelê word nie. Ouers het ook skuld aan die stelselmatige verbrokkeling van goeie basiese opvoeding en maniere wat die basis vorm vir gesonde denke, aksies en ambisie. Dit het selfs skoolverlaters in lae standards in die verlede die integriteit, common sense en basiese etiese en lewensbeginsels gegee om sonder matriek of geleerdheid groot suksesse van hul lewe te kon maak. Inbors, dink ek noem mens dit.
Ek verwyl my korter vakansie as normaalweg, weens ekonomiese beperkings, die jaar weer in die Boere Bahamas en ek verkyk my weer eens aan die jeug en my maters en kennisse. Kinders van so jonk as 13 jaar sit in drinkplekke elkeen met ’n dubbel drankie en ’n “E- sigaret” en vermaak mekaar daar tussen grootmense aan hulle bekend, met wie die grootste rookwolk kan blaas en die vinnigste sy dop kan afsluk.
Meisietjies in dieselfde ouderdomsklas loop daar rond met kleertjies aan wat beswaarlik toemaak wat toe behoort te wees en is nog meer vermakerig met die sigarette en die snaakse dialek van die oordrewe Transvaalse Afrikaans wat hulle almal deesdae praat.
Volgende dag op die strand ry ek by ’n kamp verby en stop om te groet. Daar sit gisteraand se hooftiere en drink ’n koeldrankie uit ’n plastiekglasie saam met ma en pa en die vlindertjies is toegedraai dat skaars die tone en die oë uitsteek. Nie een van hulle groet my nie, maar sit my grootoog en aanstaar uit vrees dat ek dalk oor gisteraand iets sou rep, maar ek besluit daarteen, want dan word my twee vyande dalk vier en ek loop dalk met ’n dik lip daar weg. Nou nie dat my spruite wit engelgewade aan het nie, hulle jaag ook aan en daarom skaar ek myself ook by die ouers wat die jaar dalk so ’n bietjie gaan moet fokus op ons telge, ons voorbeeld en hulle toekoms.
Later die dag ry ek weer by die span se staanplek verby en ek skaam my vrek vir die gemors wat my bekendes en hul kroos daar agtergelaat het. Ons tel maar op en maak skoon. Nee mense, ons help met die verval van ons kinders met wat ons toelaat en wat ons agter laat. Dis nie net regering se skuld nie. Kom ons maak ’n verskil aan dit waaroor ons beheer het en stuur ten minste bedagsame, goed gemanierde, vriendelike, hulpvaardige, flukse, netjiese en ordentlike kinders die lewe in. - Die tweede deel van die brief verskyn Vrydag. -Redakteur

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie