Ouers wag vier jaar later steeds op seun se oorskot
Ouers wag vier jaar later steeds op seun se oorskot

Ouers wag vier jaar later steeds op seun se oorskot

’n Gebroke San-ouerpaar wonder waarom die Tsumeb-polisie destyds nie ook honde en ’n helikopter soos met die onlangse verdwyning van Mandela Nakale op Lüderitz ingespan het nie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – ’n Sesjarige seuntjie wat vier jaar gelede van ’n plaasskool op die Excelsior-hervestigingsplaas naby Tsintsabis verdwyn het, se ouers het nou nog nie sy oorskot van die polisie teruggekry om hom te begrawe nie.
Die gebroke ouers van klein Stefanus Haneb, mnr. Stefanus Tkaiseb en me. Ottilie Hannes, kry nie vrede en afsluiting om vir hom ’n eervolle begrafnis te hou nie. Die ouers werk op die plaas Rosa langs die hervestigingsplaas in die Tsumeb-distrik.
Klein Stefanus was maar in graad 1 toe hy van die skool af weggeloop het, het mnr. Dries Swart, die eienaar van Rosa, aan Republikein vertel. Hy sê klein Stefanus is teruggeneem na die skool op Excelsior, maar het op Maandag 27 Maart 2017 weer weggeloop en soos ’n groot speld verdwyn.
“Die polisie het eers op Vrydagoggend 31 Maart na die plaas uitgekom en met hul skerppuntskoene tot 13:00 bietjie na Stefanus gesoek. Hulle het gesê hulle moet teruggaan, want hulle het ’n sportdag.
“Die Saterdag het die polisie weer vir sowat ’n uur kom soek, maar die reën het ons soektog belemmer,” het Swart vertel.
Hy sê hy en sy plaaswerkers het vir elf dae onverpoosd na die kind gesoek en hy het selfs sy voertuie snags vir die soektog beskikbaar gestel. Daarna het Tkaiseb, wat al meer as 15 jaar op Rosa werk, steeds na sy kind bly soek.
Swart sê op Donderdag 4 Mei 2017 is ’n kind se beendere en klere op die Excelsior-hervestigingsplaas ontdek.
“Die Tsintsabis-polisie het die Saterdag uitgekom en nie eens ’n lyksak by hulle gehad nie. ’n Plaaswerker het sy T-hemp uitgetrek en die ander plaaswerkers het hom gehelp om die beendere in die hemp toe te vou.”
Volgens Swart het die ouers en plaaswerkers die seuntjie aan sy klere uitgeken.
“Die pa en ma moes op Maandag 8 Mei na die Tsumeb-polisiekantoor gaan om bloedtoetse te doen om die oorskot met hul DNS te verbind,” het Swart gesê.
“Ons wag nou nog vir die uitslae van hierdie toetse.”

WÉÉR TOETSE
Swart sê hulle het ’n jaar gelede weer navraag by die Tsumeb-polisie gedoen en op 26 Maart 2020 moes die ouers opnuut bloedtoetse laat doen.
“Aan ons is gesê die kind se oorskot sal binne ’n week aan ons oorhandig word. Ek het ’n klein, wit doodskissie teen sowat N$800 gekoop om klein Stefanus te begrawe,” het Swart vertel.
“Dis nou ’n jaar later en ons het steeds nie die uitslae van die bloedtoetse óf die oorskot teruggekry nie.”
Swart sê hy het verlede week weer navraag by die Tsumeb-polisiekantoor gedoen en moes verskonings soos die forensiese afdeling wat na hul nuwe hoofkantoor in Eros geskuif het en die Covid-19-pandemie aanhoor.
Volgens Swart loop Stefanus al vir vier jaar “sleepvoet” op die plaas rond en sê gereeld vir hom “ek dink (aan) my kind”.
Sedert die onlangse opspraakwekkende verdwyning van die driejarige Mandela Nakale op Lüderitz “kon Stefanus en Ottilie nie verstaan waarom die polisie nie ook destyds ’n helikopter en honde ingespan het om na klein Stefanus te soek nie”.
Swart meen omdat hulle San-mense is, is hulle vergete mense.
Republikein het gisteroggend navrae aan komm. Nelius Becker, hoof van die Namibiese polisie se Instituut vir Forensiese Wetenskap (NPSFI), gestuur. Hy het gesê indien die ouers hul kind aan sy klere uitgeken het, sou forensiese toetse onnodig wees.
Becker sê die ondersoekbeampte in die saak kan hom met die laboratoriumnommer kontak om verdere ondersoek in te stel.
“Alle inligting van die saak sal in die polisieregisters opgeteken wees.”
[email protected]


FOTO
Die bedroefde ouers van klein Stefanus Haneb, mnr. Stefanus Tkaiseb en me. Ottilie Hannes. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!