Ouetehuis vier Madiba se verjaardag

Die Katutura-ouetehuis sal Woensdag gevul word met die klank van musiek wanneer die Youth Orchestras of Namibia (Yona) ’n spesiale konsert hier hou.

Dít om Suid-Afrika se oudpresident Nelson Mandela se lewe en nalatenskap te vier.

Mandela sou Woensdag sy 100ste verjaardag vier.

Die konsert van ’n uur lank begin om 14:30 en toegang is gratis. Dit vorm deel van die Nelson Mandela-stigting se oproep aan die wêreld om Madiba se nalatenskap op sy verjaardag te vier deur sy voorbeeld te volg en iets te doen wat die wêreld ’n beter plek maak.

Yona is ’n beweging wat beoog om maatskaplike verandering deur musiek teweeg te bring. Die beweging spog ook met ’n koor en kinders leer om die viool, tjello, blokfluit en slaginstrumente te speel.

“By Yona wil ons waardes soos respek vir ander, deernis en vrygewigheid kweek. Dit is ook in die gees van dié waardes wat die konsert by die Katutura-ouetehuis sal plaasvind. Ons wens is dat Yona-kinders dié waardes dwarsdeur hul lewens sal uitdra,” het me. Gretel Coetzee, van Yona, gesê. Vir meer inligting, skakel Gretel by 081 202 4493.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer