Oukersaand met Jan en Sêra van die suide
Dis 24 Desember 1989 en ek is op pad vanaf Windhoek na Lüderitz vir ’n vinnige heen-en-weertjie. Ongeveer 140 kilometer wes van Maltahöhe sien ek die kenmerkende slingerspoor van ’n donkiewaentjie in die pad.
Net ná die plase Kleinbegin en Dina staan ’n groot kameelboom neffens die pad waaronder twee donkies uitgespan staan. Die karretjie se een wiel mik in die lug soos ’n reunhond wat na iets korrel. Langs die karretjie staan ’n man moedeloos met sy hande op sy knieë. Hy het ’n rooihemp en swartbroek aan.
Hy kyk na waar die wiel moet wees, soos iemand wat na ‘n oop graf sou staar. Ek trek af en stop in die kameelkoelte. Toe ek uitklim stap hy nader, haal die swart hoed met die rooiveer van sy kop af en vee die sweet met ’n ewe rooi sakdoek van sy gesig af.
“Dagsê, Meneer, ek is Jan Swartbooi,” stel hy hom voor, maar skud nie blad nie. Ek sien sy hande is pikswart van ou ghries. “Dis, Sêra, en ons mannetjieskind, Boetie,” stel hy sy gesin voor. Maar ek noem haar sommer Blom,” sê hy en wys liefdevol na waar sy skamerig sit. Ek vat sy hand en stel my voor en groet vir Blom wat erg bloos.
“Waarheen is julle op pad?” vra ek so in die loop na waar die karretjie met sy een been in die lug staan. “Helmering, Meneer, ons ry maar so draai-draai aan en kyk of daar nie werk langs die pad is nie. Ons het gister hier anderkant by meneer Clutch weggespring, maar nou het die wielbêring gegroet,” verduidelik hy en wys na waar die gebreekte onderdeel ons kwaadwillig aangluur.
Ek stel ondersoek in en sien dat die skeut beredder kan word. Twee ure later was ons hande. Jan het reeds na Blom se kant toe vir ’n beker vars koffie geskimp. Die aroma van die groenboksie-koffie kom lê gemaklik op my gemoed. Ons drink in stilte, terwyl Sêra iewers in die agtergrond met iets doenig is.
“Jan, wat noem jy hierdie twee pragtige diere van jou?“ vra ek terloops. “Meneer, die donker enetjie is, Staan, en die valetjie is, Lê,” sê hy en lag uit sy maag uit.
Met die skaduwee wat lank raak, besluit ek om sommer daar langs die pad by hulle te oornag. Ek haal ‘n karakoelrib uit en braai dit met koljander en sout op kameelhoutkole. Die geurige vleis loop mooi saam met Blom se roosterkoeke en soet swart koffie uit ‘n groen blikbeker van hulle.
Later bring Jan ’n gehawende kitaar te voorskyn, stel die instrument in, en begin vrolik tokkel. “Blom, moet nou nie skaam wees nie, waar’s daai bekfluitjie van jou?” vra hy vir Sêra wat haar eenkant hou. Hy laat nie op hom wag nie en trek weg met 'Outa in die Langpad' terwyl sy voete ritmies die Namib se rooi sand klop.
Sêra was eers huiwerig, maar toe die eerste bekfluitjie-akkoorde saam met die nag se koelte op haar voete gaan lê, is daar geen keer aan haar nie. Sy speel vir Jan dat hy eintlik kromtrek van die lekkerte, terwyl beide ’n stofriel lostrap. Ek sit en vergaap my oopmond aan die twee mense en kry ’n tipe weemoed en lekkerte wat moeilik is om te verwoord.
Toe ek heelwat later agter op die bakkie my lê kry en Jan-hulle op die karretjie inkruip, besef ek opnuut dat liefde en geluk nie geld nodig het nie. Ek en die Melkweg knipoog geheimsinnig vir mekaar. Ek voel gelukkig daar waar ek onder die Namib se strelende sterrehemel lê.
’n Paar dae later op pad terug vanaf Lüderitz, ry ek na Helmering om ’n pakkie af te gee. Dis ’n Saterdagoggend. Met die uitklimslag hoor ek iemand opgewonde na my roep. Dis Jan wat voor die winkel staan waar hy aan ’n pakkie sout-en-asyn-tjips smul.
Blom het die mooiste blou rok aan en Boetie sit en speel met ’n nuwe rooi karretjie. “Hallo, Meneer!” groet hy uitbundig. Ons skud blad en verneem na mekaar se gesondheid. “Weet Meneer wat? Daai wielbêring hou nog!” sê hy en lag dat die rooiveertjie in sy hoed saam wikkel. Ek het Jan en Sêra nog nie weer gesien nie, maar hul nalatenskap leef in my voort.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie