Ouma Marthie vier 100ste verjaardag
Van stilsit en hande vou is daar geen sprake nie.
Tanja Bause – Ouma Marthie het op 2 Junie haar 100ste verjaardag in die Oude Rust Oord in Windhoek gevier. Sy woon al 20 jaar in die oord en is tans die tweede oudste inwoner.
Martha Christina Jacomina Tromp, of ouma Marthie soos almal haar liefdevol noem, is op die plaas Doornknie naby Kenhardt in Suid-Afrika gebore. Gedurende haar eerste 12 lewensjare lei haar pad via Kakamas na Marchant waar sy haar eerste skooljare voltooi het. Van daar af het haar familie Boegebergdam en toe Upington toe getrek. Sy het by die hoërskool in Upington haar skoolloopbaan as toppresteerder in standerd 6 klaargemaak.
“Ek het nie die voorreg gehad om my skoolloopbaan te voltooi nie. Ek was 'n slim kind en onthou goed hoe een van die ander kinders vir my ma eendag gesê het 'Martha staan alweer eerste in die klas.' My ma het net gesê: 'Dit is haar plek, sy kan nie anders nie.'
“Ek was baie goed in wiskunde, aardrykskunde en handwerk.”
Handwerk is iets wat sy haar hele lewe lank gedoen het en nog steeds doen. Sy het baie van haar eie klere gemaak, asook babaklere gehekel.
“Daar hang nou nog klere in my kas wat ek gemaak het. Die hekelwerk is nou baie geknoei, maar ek kry nog die stekie reg en hak nog die pennetjie deur. Ek het nou drie komberse klaargemaak vir die baie winters wat dalk nog voorlê. Ek is nie 'n mens wat met hande oormekaar gevou kan sit nie. Ek sien baie mense so lekker sit, maar dit is nie ek nie. Ek moet besig bly, al vat ek net 'n lappie en vee die tafel af.”
Ouma Marthie onthou haar oudonderwyser vir wie die kinders “ou Os” genoem het.
“Ons het een dag vir natuurstudies oor die brug na die eiland toe geloop. Ek het 'n goeie vriendin gehad wat baie waaghalsig was en sy wou in 'n rooi skuit klim. Ek het haar aan haar arm terug gepluk en gesê jy kan dit nie doen nie. 'Wat as ou Os jou sien?' Al die kinders het begin lag en my vertel hy het op daardie oomblik agter my gestaan. Toe dit tyd was om huis toe te gaan, het hy my gevra om agter te bly en ek het gedink ek is in groot moeilikheid. Maar hy het gesê dat ek Saterdagnamiddag by die bioskoop moet wees, omdat ek 'n prys vir volharding gekry het.”
Nadat sy standerd 6 voltooi het, het haar pa haar plaas toe gestuur om vir ouma en oupa te sorg.
LEER DIE PLAASLEWE
“Ek het na die plaas Lubbeskolk in die Pofadder-distrik toe getrek, maar ek het nie vir ouma gaan oppas nie; ek het gaan boer. Ek het geleer om brood te bak en om bokke te melk. Ek kan nie 'n koei melk nie, maar gee vir my 'n bok en ek melk hom.”
Sy het ook geleer om 'n slagding met 'n knipmes af te slag.
“Dit is glad nie nodig dat jy 'n byl gebruik nie. Die dier het litte en as jy die litte volg, het jy net 'n knipmes nodig.”
Ouma Marthie vertel dat sy 'n sweep lekker hard kon klap en sy het altyd 'n sweep by haar gehad wanneer sy in die veld agter die bokke aangeloop het.
“Ek het eendag op 'n bok afgekom wat gelam het. So 'n entjie van die bok af het 'n jakkals gestaan wat die lam doodgebyt het. Ek het net nee gesê en my sweep geklap. Die jakkals het weggehardloop, maar ek was hartseer dat ek nie die lam kon red nie.”
Haar 16de verjaardag het sy vir die eerste keer sonder haar ouers op die plaas gevier. Kort daarna het sy ná twee jaar op die plaas vir haar ouers in Upington gaan kuier.
“Ek het besluit ek wil nie terug plaas toe gaan nie. Ek het by my ouers gebly en my man, Jan, ontmoet. Ná 'n jaar het ons getrou. Jan het op die paaie in die Kenhardt-distrik gewerk en ons het soontoe getrek. Dit is ook waar my twee dogters, Susan en Annatjie, gebore is.”
Ná die padskrapery het Jan by die droë vrugte-maatskappy gewerk en toe by die spoorweg in Upington.
Ouma Marthie het gehelp om rosyne voor te berei en te droog.
Die familie het 'n stuk grond langs die Oranjerivier gekoop. Hier is die drie seuns, Jannie, Nick en Louis, gebore. Behalwe die jongste seun, is al die kinders by die huis met die hulp van vroedvroue gebore. Die jongste seun is in 'n hospitaal gebore en dit was ook die eerste keer wat Ouma Marthie die binnekant van 'n hospitaal gesien het.
“Ek onthou toe ek vir dr. Krige die laaste keer gesien het voordat ek moes kraam, het hy vir my gesê: 'Jy lyk nou soos 'n slang wat 'n eier ingesluk het.' Ek het vir hom gesê as hy nie ophou praat nie gooi ek hom met my handsak.”
Die familie het in die stadium in 'n sinkhuis op hulle grond gewoon, terwyl Jan los werke op die omliggende plase en die paaie gedoen het.
“Jan en 'n bouer David het 'n drieslaapkamerhuis vir ons gebou. Hulle het gebou en gepleister en ek het geverf sodra die pleister droog was.”
In 1956 het die gesin na Namibië verhuis en eers op die plaas Dakota met karakoelskape geboer.
“Dit is vir my die wreedste boerdery op aarde. As die ooie terugkom en hulle roep vir hulle lammertjies en hulle is nie meer daar nie. Dit het my hartseer gemaak.”
Sy het by 'n ou boervrou geleer hoe om met die velle te werk, te was en oop te gooi.
Hulle het toe na die plaas Rusoord getrek en met beeste geboer, voordat hulle alles verkoop en Windhoek toe getrek het.
Ouma Marthie onthou die afsterwe van haar skoonma as een van die hartseerste oomblikke in haar lewe. Haar skoonouers het by haar en Jan kom bly nadat hulle in die huwelik getree het.
“Ek en my skoonma was maatjies. Ek was baie lief vir haar. Sy het een aand oor 'n tentpen geval en 'n aar gebars wat veroorsaak het dat sy binnetoe gebloei het. Sy was 'n week in die hospitaal toe sy oorlede is. Ek en my skoonpa was by haar toe sy haar laaste asem uitgeblaas het. Ek onthou ek het opgestaan en buite toe geloop. Daar het ek my trane in die gang afgevee en vir hom tyd gegee om afskeid te neem. Dit was baie hartseer. Ek sê altyd vir die Here ek wil ook so sag en stil soos sy sterf.”
Sy het ook haar ma en pa opgepas en met haar pa se afsterwe het haar ma by haar kom intrek.
“My ma het 25 jaar by my gewoon. Sy was nog 13 jaar ná Jan se afsterwe by my. Jan is in 1970 oorlede toe ek 50 jaar oud was.”
Sy het vyf kinders waarvan een seun oorlede is, 14 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.
“Ek is baie dankbaar ek kon twee van my kinders universiteit toe stuur. Hulle moes gewerk het, want ek kon hulle nie baie gee nie. Maar ek het gehelp waar ek kon en dit is vir my lekker om te weet hulle was op universiteit en dat hulle geleerd is.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie