Ouma Rina oorhandig stapgeld

Tanja Bause
Tanja Bause - Ouma Rina Majiedt (76), wat in Julie van Windhoek na Rehoboth gestap het, het N$20 000 vir twee liefdadigheidsorganisasies ingesamel.

Die Khomas Homeless Development Organisation en die Ebenezer-projekte, in samewerking met die Dreame-sentrum op Rehoboth, het by dié staptog gebaat.

Volgens Ouma Rina sal die Dreame-sentrum die skenking vir opknapping en die rehabilitasie van drank- en dwelmverslaafdes aanwend.

“’n Enkele poging soos die staptog is maar ’n druppel in die emmer vir hierdie nood,” sê sy.

Altesaam 20 Windhoekers en 30 Rehobothers het saamgestap.

Die staptog het om 07:00 by Aris buite Windhoek afgeskop en omstreeks 16:00 op Rehoboth geëindig.

“Dit was ongelooflik en daar is so baie mense vir wie ek dankie moet sê, soos die ombudsman mnr. John Walters, mnre. Gerhard Schneideville van Khomasdal en Waldo Majiedt, my seun, en my kleindogter Nicole Kloppers, wat die hele pad gestap het.

“Ek moet ook vir dr. Golda Stellmacher, wat in haar pa se voetspore volg, dankie sê. Wyle dr. Frans Stellmacher het al my fondsinsamelings ondersteun en my aangemoedig om dit te doen soos sy dogter dit nou doen.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer