Ouma Rina stap (al weer)
Henriette Lamprecht – Sy wou nog altyd iets vir haar gemeenskap beteken, en as sy kan dien met vetkoek bak, sop maak vir haweloses of rehabiliterende alkoholiste bystaan, is Ouma Rina Majiedt (76) van Windhoek dáár.
Eerskomende Saterdag sal sy weer in die pad val om stap-stap geld in te samel.
Dié keer stap sy van Aris buite Windhoek tot op Rehoboth vir drie organisasies wat haar en haar man, Seth, na aan die hart lê.
Dít om geld vir hul gemeenskap se behoeftiges in die stryd teen dwelms en alkohol in te samel.
“Ek het ’n sagte plek vir hierdie mense. My hart wil altyd ’n bietjie stukkender breek oor hierdie dwelmverslaafdes,” sê Ouma Rina.
Sy beskryf haarself as “perdfris en gesond” en sal op haar staptog van onder andere die Namibiese ombudsman, adv. John Walters, dr. Golda Stellmacher, past. Willem van Wyk en Rehoboth-inwoners vergesel word.
Stellmacher is wyle dr. Frans Stellmacher, ’n “groot seun” van Rehoboth, se dogter.
Hy het Ouma Rina jare gelede uitgedaag om die pad van Rehoboth na die Bahnhof-stasie, sowat 30 km buite die dorp, ten bate van die Annelie Olivier-ouetehuis aan te durf.
In 2011 het Ouma Rina toe die pad per fiets aangepak om geld vir die ouetehuis in te samel.
In 2013 het sy van Windhoek na Okahandja gestap om broodnodige fondse vir die Namibiese hulpfonds vir bejaardes (Noah) in te samel.
Ouma Rina stap soggens om Seniorpark in Windhoek, waar sy en oom Seth woon.
Die drie sentrums wat by haar en haar stapspan se fondsinsameling baat, het almal die opheffing en herstel van stukkende en behoeftige mense as hoofdoel.
Dit sluit in die Khomas Homeless Development Organisation, Ebenezer-projekte in samewerking met die Dreame-sentrum op Rehoboth, en Souls for Jesus Namibia.
Ouma Rina en Seth is nou betrokke by die Khomas Homeless Development Organisation, ’n plek van veiligheid en ondersteuning vir haweloses.
Dié organisasie is deur Charles William Sawyer begin wat self vir ’n aantal jare haweloos was.
Souls for Jesus Namibia fokus op die behandeling en ondersteuning van dwelm- en alkoholverslaafdes. Die behandelingsprogram wissel van een maand tot drie maande.
Die Dreame-sentrum op Rehoboth is deur ’n groep bekommerde inwoners op die dorp begin om die misbruik van alkohol- en dwelms op Rehoboth te bestry.
Die stappers val Saterdag om 07:00 in die pad en lesers wat Ouma Rina en haar fondsinsameling wil ondersteun, kan haar by (061) 228450 of 081 310 5393 kontak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie