Ouma Sofia is 105!

Een van die land se oudste inwoners bly al die afgelope 66 jaar op Duineveld en onthou nog haar jong liefde.
Henriette Lamprecht
ont face="Verdana" >

Henriette Lamprecht - Sy was al die jare “heeltemal gesond”, maar het skielik blind geword en mettertyd agteruitgegaan.

So vertel me. Maria Claassen van Windhoek oor haar ma wat op 14 Junie vanjaar 105 jaar oud geword het.

Ouma Sofia Johanna Coetzee woon op Duineveld en is een van die oudste inwoners in die land. Sy is op Brandvlei naby Upington in Suid-Afrika gebore. As die jongste van ses kinders het sy saam met haar ouers na ’n plaas in die Mariental-omgewing verhuis. Op Mariental het sy haar man Thys ontmoet en saam het hulle na die plaas Langverwag getrek en met ’n gesin begin.

“Ons lag altyd as sy vertel hoe my pa met die perdekar op die plaas aangekom het, haar geroep het om te kom sit en haar toe gevra het om te trou,” vertel Claassen.

Benewens die vyf kinders wat hulle saam gehad het, het ouma Sophia ook haar man se ses kinders uit ’n vorige huwelik help grootmaak.

Haar ma was baie lief vir fyn naaldwerk doen en was baie betrokke by die kerk.

“Langverwag is nie ver van Duineveld geleë nie, so 3 km, en my ma het elke Donderdag dorp toe en terug vir biduur gestap. Sy was huisvrou, maar ook voltyds by die kerk betrokke.”

Haar ma se liefde vir God en die Woord loop soos ’n fyn draad deur ouma Sofia se lewe.

“Sy is ’n vrou wat glo, en sy bly sê hoe goed die Here vir haar is, hoe oneindig groot Sy genade vir haar is.”

Claassen se gedagtes gaan terug na hul kinderjare en die Nederlandse gesang waarmee hulle vroegoggend altyd die dag begin het.

“Ons het 06:00 opgestaan en die dag met ’n gebed en dié gesang begin. Met ouma se verjaardag is dié gesang vir haar met trompette gespeel; die trane van blydskap het sommer so geloop.”

Claassen maak saam met haar twee susters wat op onderskeidelik Kalkrand en Rehoboth woon, beurte om elk vir ’n maand vir ouma Sofia op Duineveld te gaan versorg.

“Sy is bedleênd en staan nie meer op nie. Ons het haar altyd in die rystoel gesit en bietjie uitgesit buite, maar nou is dit te koud, ons doen dit nie meer nie.”

Ouma Sofia se verstand is nog baie helder, maar hulle kom agter sy begin vergeet.

“Maar ons leer nog so baie by haar. Haar ou lyfie is weg en sy is klein en maer, maar alles is die Here se tyd, Hy gee ons almal die krag om aan te gaan. Sy het ons as babatjies versorg, dit is nou ons tyd om haar te versorg.”

Ouma Sofia het agt kinders, 53 kleinkinders en 42 agterkleinkinders.

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!