Ouma van vele

Ouma Christina Karises sê het genoeg energie en planne om 210 kinders se lewens voortdurend te verbeter.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het nie meer kinders van my eie nie. Die Here het vir my 210 kinders gegee om lief te hê en voor te sorg,” sê Ouma Christina Karises (81), stigter van Mother’s Voice Grassroots in Katutura.

Ouma Karises is op Augeigas, diep in die Khomas-hoogland, as een van agt kinders gebore.

“Ek en my broer Reinhard het bokke opgepas. Daar was geen skool nie, so ek het nooit skoolgegaan nie,” sê sy.

“Ons ouers het niks gehad nie en die lewe was baie ellendig. Dus het ek op 15-jarige ouderdom besluit om Windhoek toe te trek op soek na werk sodat ek my ma kon ondersteun.”

Sy het vinnig werk as ’n huishulp gekry, wat haar ’n karige R2 per maand in die sak gebring het.

“Ons is in rand betaal. Ek het R1 vir my ma gegee en ek het van die ander rand geleef.”

Met haar tweede werk het sy R4 per maand verdien en het sy op die erf ingewoon by die huisgesin waar sy gewerk het.

Ouma Karises het 25 jaar vir dié betrokke gesin gewerk.

“Hulle was baie lief vir my en hulle het my eintlik grootgemaak,” sê sy.

Ná 25 jaar het Ouma Karises die Here gevind en ’n kursus aan ’n Bybelskool in Suid-Afrika gedoen.

“Ek was tot daai tyd nog nie in ’n skool nie en ek kon nie lees of skryf nie. Vandag kan ek die Bybel in twee tale lees en onder meer my naam skryf.”

Ouma het vyf jaar lank in Pretoria gewoon en gestudeer en het ná haar terugkeer Windhoek toe by die sendelinge aangesluit.

Daar het sy R80 per maand verdien.

Deur haar sendingwerk het sy hospitale gereeld besoek om veral mense met MIV/vigs te ondersteun en die Woord van God te versprei.

“Hierdeur het ek agt MIV-positiewe vroue leer ken. Hulle het almal gereeld oor hul kinders gesels. Die vroue is almal oorlede en het verskeie kinders agtergelaat. Een vrou het sewe kinders gehad. Ek het besluit om die kinders te versorg en dít is hoe Mother’s Voice begin het.”

Ouma Karises self het twee kinders van haar eie gehad wat baie vroeg dood is en nou wy sy haar lewe aan die 210 minderbevoorregte kinders van Dolam in Katutura.

Vyf van die kinders bly by haar aan huis.

“Ek het van die begin af altyd vyf kinders by my in die huis wat ek grootmaak. Daar is net plek vir vyf, en as een klaar is met skool, dan gaan hy of sy en die volgende kind neem die plek in die huis in,” sê sy.

In 2002 het die Icelandic International Development Agency (Iceida) vir Ouma Karises ’n kamer aangebou en met beddens en ander noodsaaklikhede ingerig sodat sy na vyf weeskinders kinders kon omsien.

Iceida het die kinders ook van kos voorsien en die water-en-elektrisiteit-rekening betaal.

“Vandat Iceida die land sowat 10 jaar gelede verlaat het, gaan dit baie swaar met ons. Maar ek gee steeds die kinders tussen sewe en 18 vyf dae ’n week kos. Baie mense het al vir my gesê om hulle net elke tweede dag kos te gee, want dan sal ek minder sukkel, maar ek kan dit nie doen nie, want die kinders kom staan hier en is honger. Sommige kinders kom selfs op ’n Saterdag op soek na kos,” sê Ouma Karises.

Sy het ’n stuk grond op Nau As in die Groot Aub-omgewing by die regering gekry.

“In ’n klein tuin het ons groente geplant wat in die sopkombuis gebruik is vir die kinders. Ons het nooit groente gekoop nie. Iceida se mense het een tuinier vir ons geborg. Hulle het ook vir die water wat ons gebruik het, betaal. Ná hulle weg is, het ons nie die geld gehad om NamWater verder te kan betaal nie. Nou is daar net kool in die tuin.”

Intussen is ’n sonaangedrewe boorgat en opgaardam op die plot aangebring.

“Nou moet ons net ’n pyp van die water tot by die tuin lê, dan kan ons weer begin plant. Ons het genoeg water. Met die tuin sal daar genoeg kos vir Mother’s Voice wees. Ons sal nooit weer ’n wortel of aartappel hoef te koop nie. Al wat ons nodig het, is pyp, draad en dalk ’n kruiwa,” sê Ouma Karises.

“Ek weet nie hoeveel tyd ek nog oor het nie, maar ek droom daarvan om met my kinders tuin toe te ry oor die naweek sodat ons in die tuin kan werk. Ek en my kinders kan en móét werk om kos op die tafel sit.”

Mother’s Voice het ook ’n voertuig ontvang waarvan die waterpomp stukkend is.

Ouma Karises hoop dit kan herstel word sodat sy en die kinders op ’n Vrydag tuin toe kan ry.

“Ek moet die kinders van die straat af kry, en wat is beter as om na die veld te gaan en in ’n tuin te werk en kos vir jouself en ander kinders te plant?”

Tans ondersteun ’n hand vol mense en een besigheid Ouma Karises in haar reusetaak.

Sy ontvang hoofsaaklik mieliemeel, sopbene en gas vir die stoof.

“Vir die res gebruik ek my pensioengeld en dit sukkel, maar die kinders sal kos kry.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!