Outapi-abattoir open deure
Outapi-abattoir open deure

Outapi-abattoir open deure

NNLVA sal Outapi en Eenhana bestuur
Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb het Maandag die Outapi-abattoir aan die Namibiese Vereniging van Vegters uit die Vryheidstryd (NNLVA) oorhandig, wat die fasiliteit se nuwe operateur moet wees.

Die NNLVA sal die abattoir, in samewerking met mnr. Ettiene Scholtz, eienaar van African Meat Supplies op Oshakati, bestuur en neem die werkinge van die abattoir onder die Beesvleiskettingontwikkeling vir Noordelike Kommunale Gebiede-projek oor.

Die minister het gesê die gebied staar verskeie uitdagings in die gesig as dit by die bemarking van bees kom. Die eerste is die veterinêre kordonheining, waarvolgens die noordelike kommunale gebiede van die bek-en-klouseer-vrye dele van Namibië geskei word en verhoed dat vleis uit dié dele op winsgewende uitvoermarkte verkoop kan word.

Boonop het bek-en-klouseer in 2015 weer uitgebreek en daarná, in 2016, het die abattoirs op Oshakati en Katima Mulilo hul deure gesluit.

“Een van die doelwitte van die ontwikkelingsprojek is om deur die waardeketting gediversifiseerde bemarkingsgeleenthede vir hierdie vleis in beide die plaaslike en uitvoermarkte te skep.

“Die oorhandiging van hierdie fasiliteit kom as 'n groot verligting vir boere in die abattoir se opvanggebied, naamlik dié in die Omusati- en Oshanastreek, asook boere in die noordelike dele van die Kunenestreek en die dele wes van Oshikoto en Ohangwena.

“Oor die afgelope vier jaar kon hierdie boere nie hul slagbeeste formeel bemark nie, weens die sluiting van die Oshakati- en Katima Mulilo-abattoir,” het !Naruseb gesê.

Hy het bygevoeg dat hierdie boere se opheffing uit hul omstandighede egter afhang van hul deelname aan die hoofstroomekonomie.

!Naruseb het gesê ander fasiliteite in die noordelike kommunale gebied sal as skakels in die projek dien. Dit sluit in veilingskrale by Omuntele, Onyuulaye, Ooskoek, Omauni, Oshifo, Ompundja, Opuwo, Nepara, Lusese en Ncaute; sowel as abattoirs by Oshakati, met 'n slagkapasiteit van ongeveer 110 beeste per dag, en Katima Mulilo, met 'n slagkapasiteit van 70 beeste per dag.

Verder bou die ministerie 'n nuwe slagplaas by Rundu, met 'n slagkapasiteit van 40 beeste per dag en slagkapasiteit van 120 kleinvee per dag, en word daar beplan om die Opuwo-slaghuis op te gradeer en ‘n vleisverwerkingsfasiliteit op Bukalo in die Zambezistreek te bou.

Nampa berig Omusati se goewerneur, mnr. Erginus Endjala, het tydens dieselfde geleentheid gesê 270 000 stuks lewende hawe kom, volgens die landbousensus van 2011, in hierdie gebied voor en hierdie boere sukkel om toegang tot die plaaslike beesmark asook ander markte te kry.

Endjala het die hoop uitgespreek dat die inwerkingstelling van die Outapi-abattoir markte sal open en waarde sal toevoeg tot die streek se beesprodukte - veral omdat ons buurland, Angola, ook belangstelling in Namibiese beesvleis getoon het.

Die goewerneur het verder gesê die groot aantal beeste plaas druk op weiding in die gebied.

Die Namibiese Ontwikkelingskorporasie (NDC) het die Outapi-abattoir bestuur tot voor die ministerie N$25 miljoen se opgraderingswerk gedoen het.

Die Eenhana-abattoir, wat ook opgradering ter waarde van N$25 miljoen ontvang en volgens !Naruseb sowat 95% voltooi is, sal na verwagting in Julie vanjaar aan die NNLVA oorhandig word.

Hy het ook gesê konstruksiewerk by die Ongwediva-vleisverwerkingsfasiliteit is 65% voltooi en sal na verwagting teen die einde van hierdie boekjaar afgehandel word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer