Outjo ruk op na hof oor vyf vermeende stropers
Outjo ruk op na hof oor vyf vermeende stropers

Outjo ruk op na hof oor vyf vermeende stropers

Die beskuldigdes verskyn vandag op klagte van die onwettige jag van spesiaal beskermde wild.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die gemeenskap van Outjo gaan vanoggend na die landdroshof opruk om borgtog vir vyf vermeende renosterstropers teen te staan.

Die vyf beskuldigdes is mnre. Simon Petrus Mbanzi (37), Immanuel Haingura (42), Christopher Kanonga (37), Joseph Kativa Ndumba (44) en die 28-jarige Abel Dumeni, wat daarvan beskuldig word dat hulle op 27 Mei ’n renosterbul by ’n luukse lodge suidwes van die Etosha Nasionale Park gestroop het.

Dit sal hul tweede verskyning in die Outjo-landdroshof wees. Die vyf is op 29 Mei in hegtenis geneem en het aanvanklik op 31 Mei in die Rundu-landdroshof verskyn, waarná hul saak na Outjo oorgeplaas is.

Hulle staan tereg op ’n klag van die onwettige jag van spesiaal beskermde wild.

Volgens die eienaar van die lodge (naam weens veiligheidsredes weerhou) is 13 renosters sedert Maart 2018 daar gestroop.

“Vanjaar is vyf renosters deur stropers op my lodge en drie van my buurman s’n afgemaai – ondanks die teenwoordigheid van ’n teenstropingseenheid op die lodges,” sê hy.

Renosterstropers teiken private plase en lodges met renosters toenemend.

Volgens die woordvoerder van die minsiterie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, is 19 renosters tot dusver vanjaar al in Namibië gestroop.

PETISIE

Die eienaar van die lodge sê hy is besig met ’n bewusmakingsveldtog teen renosterstropery en selfs die /Hai//om het gister hul steun aan hom bevestig om vandag by die hof aan die protes deel te neem.

Hy het ook 'n petisie by https://secure.avaaz.org/en/community_petitions/The_community_of_Kunene_region__No_Bail_for_Rhino_poaching_Sindicates/?lxDbDob voorberei en doen ’n beroep op Namibiërs om dit te onderteken.

Volgens die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NEC), dr. Chris Brown, is indrukwekkende vordering met die vasvat van wildmisdaad gemaak.

“Die voorkoming van wildmisdaad vind dikwels agter die skerms plaas en die algemene publiek en selfs baie bewaringsorganisasies is selde bewus van wat gedoen en bereik is,” sê hy.

“Mense is onder die indruk min word gedoen en misdadigers kom weg. Gelukkig is dit nie die geval in Namibië waar indrukwekkende vordering teen wildmisdadigers gemaak is nie.”

Brown sê 96 sake is die afgelope 20 maande onder die beloningskema om onwettige handel in ietermagôs te voorkom alleen deur die ministerie van die omgewing en toerisme en die Namibiese polisie aanhangig gemaak, en 177 verdagtes is in hegtenis geneem.

SUKSES

Volgens die NEC se nuwe brosjure, Conservation Partnerships to combat wildlife crime in Namibia, is meer as 300 wildmisdaadverdagtes verlede jaar in hegtenis geneem teenoor slegs sowat 50 in 2012 toe renoster- en olifantstropery weer in Namibië begin hoogty vier het. In 2018 is beslag op meer as 50 wapens gelê teenoor die minder as 10 in 2012.

Die Rooikat-trust, ’n lid van die NEC en nieregeringsorganisasie, se brosjure verwys na uitdagings, benaderings en statistieke oor wildmisdaad en verwante kwessies.

Brown sê dié sukses is grootliks aan venootskappe toe te skryf wat tussen meer as 30 organisasies aangegaan is.

Die organisasies sluit nasionale en internasionale gemeenskaps- en nieregeringsorganisasies, die private sektor, die regering, internasionale misdaadagentskappe en finansierders in.

“Die vennote het ses sleutelfaktore vir die suksesvolle bekamping van wildmisdaad in Namibië geïdentifiseer: Sterk vennootskappe, strategiese beplanning en innoverende optrede, die gebruik van alle beskikbare tegnologie, die aktiewe deel van inligting en ander bronne, vinnige finansiering en die voortdurende aanpassing van veranderende bedreigings en behoeftes,” sê Brown.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!