Ovaherero en Nama stook weer ou vure
Ovaherero en Nama stook weer ou vure

Ovaherero en Nama stook weer ou vure

Frank Steffen
Frank Steffen – Tradisionele leiers van die Ovaherero en Nama het die Namibiese regering gister van verraad teenoor slagoffers van die Duitsland se koloniale volksmoorde in die land beskuldig.
Volgens die leiers is die regering bankrot en probeer sy hande op die nuwe geld lê wat Duitsland vir geraakte gemeenskappe gaan bewillig.

Adv. Vekuii Rukoro, die Herero-opperhoof, het die Allgemeine Zeitung as volg direk aangespreek; gedeeltelik in Duits: “Sê vir Walter Steinmeier: Jy is nie hier welkom nie – jy is persona non grata.”

Volgens Rukoro sal Namibiese leiers uit die parlement stap as mnr. Frank-Walter Steinmeier, die president van Duitsland, “die moed bymekaar skraap” om Namibië te besoek met die doel om verskoning vir die volksmoorde aan te teken.

Die twee volke se leiers verwerp die raamwerk van ‘n konsepooreenkoms tussen Namibië en Duitsland oor hoe om verdere hulp aan geraakte gemeenskappe te voorsien. Duitsland het onlangs opnuut benadruk dat bykomende vergoeding nie die vorm van kontant sal aanneem nie.

Die weiering om direk met tradisionele leiers en gemeenskappe te onderhandel, bly ook ‘n twispunt.

Die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Vereniging van Nama Tradisionele Leiers, die NTLA, het eers agter geslote deure met gemeenskapslede by die Kommandosaal beraadslaag voor ‘n nuuskonferensie. Daarna het nog private gesprekke gevolg.

Volgens Rukoro bly dit onaanvaarbaar dat Duitsland weier om direk met verteenwoordigers van die Ovaherero en Nama te onderhandel.
“Dieselfde staat (Duitsland) wat die volksmoord op die Armeniërs in Turkye in 1915 erken het, weier om die volksmoord op die Herero en Nama op dieselfde manier te erken. Ons wil nie dat daar erkenning gegee of verskoning gevra word vir die volksmoord soos dit deur Duitsland gedefinieer word nie – ons wil hê dat die volksmoord erken moet word in ooreenstemming met internasionale wette en definisies,” het Rukoro en hoofman Johannes Isaack, voorsitter van die NTLA, geëis.

Volgens die twee leiers vermy Duitsland hierdie sak vol vlooie (can of worms) omdat hy weet wat die gevolge van die erkenning van volksmoord volgens die internasionale begrip sal beteken – die uitbetaling van duur vergoedingseise.

Al het die Universele Verklaring van Menseregte eers in 1948 tot stand gekom as 'n VN-inisiatief, het Duitsland volgens hulle die massamoorde op die Jode en die Armeniërs erken. Daarom moet die wandade teen die Ovaherero en Nama volgens Rukoro op dieselfde grondslag hanteer word.

“Die wet is vir almal eenders,” het hy gesê. “Dit gaan nie net oor ons nie, maar ook oor ons toekomstige geslagte,” het Isaack bygevoeg.

Volgens Rukoro is die standpunt dat ander nie by bilaterale onderhandelinge tussen twee regerings betrek kan word nie ‘n flou verskoning en dekmantel. “Per slot van rekening het die land (Duitsland) nie oor vergoeding net met Israel onderhandel nie,” het hy aangevoer.

“Daar is protokol 1 en 2: die eerste is die ooreenkoms tussen Duitsland en Israel, en die tweede is 'n ooreenkoms tussen Duitsland en 23 Joodse belangegroepe met wie Duitsland direk gesprekke gevoer het. Die verskil tussen die Jode en Armeniërs in vergelyking met ons as Nama en Herero, is dat ons swart is,” het Rukoro beweer.

“Duitsland het hierdie onderhandelinge aangegaan met dieselfde rassistiese vooroordele as wat hulle gedoen het toe hulle as kolonialiste ons land binnegeval en ons eiendom afgeneem het sonder om 'n Pfennig vir die grond te betaal. In Duitsland leer skole en universiteite oor die Holocaust, maar nie oor wat aan twee bevolkingsgroepe in Namibië gedoen is nie,” het Rukoro gesê.

Volgens Rukuro het hy bloot uit hoflikheid en weens hul persoonlike vriendskap in 2015 vir dr. Zed Ngavirue gelukgewens toe hy as Namibië se hoofonderhandelaar aangestel is. Rukoro sê Ngavirue is nooit deur mense verkies om namens hulle te praat nie en hy is volgens die Herero-leier onbetroubaar en onbevoeg.


FOTO
Mnr. Deodat Dirkse, voorsitter van die Vereniging van Nama Tradisionele Leiers se tegniese komitee oor die volksmoorde aan die woord tydens gister se nuuskonferensie. Foto Frank Steffen

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!