Ovaherero, Nama dien amptelike klag in
Ovaherero, Nama dien amptelike klag in

Ovaherero, Nama dien amptelike klag in

Eis deelname aan volksmoord-besprekings
Gerine Hoff
Catherine Sasman – Die amptelike verteenwoordigers van Ovaherero- en Nama-organisasies asook individue in Namibië, Botswana en Suid-Afrika het ’n amptelike klagte by verskillende organisasies van die Verenigde Nasies (VN) ingedien om beswaar aan te teken oor hul uitsluiting van die huidige onderhandelinge tussen die Namibiese en Duitse regerings rakende die 1904-’08-volksmoord.

Die Amerikaanse regsfirma McCallion & Associates het namens die groepe op 23 September ’n klagskrif aan verskeie VN-organisasies geskryf, onder andere die sekretaris van die permanente forum van inheemse aangeleenthede, die afdeling vir maatskaplike beleid en ontwikkeling, die departement van ekonomiese en sosiale sake, die kantoor van die hoë kommissaris vir menseregte, sowel as die VN-sekretariaat.

Volgens die klagte het die Duitse en Namibiese regerings opsetlik versuim om die Ovaherero-opperhoof, adv. Veikuii Rukoro, en Nama-hoofman David Fredericks as verteenwoordigers van die groep in te sluit.

“Aangesien die onderwerp van die huidige onderhandelings tussen Duitsland en Namibië direk verband hou met die regte van die Ovaherero- en Nama-stamme, en betrekking het op ''n bepaling van die middels wat geregtigheid vir die volksmoord en misbruik van hierdie mense sou verskaf, is dit noodsaaklik dat die Ovaherero- en Nama-verteenwoordigers ingesluit word in die onderhandelinge en ''n finale skikking oor hierdie kwessies,” het Kenneth F. McCallion geskryf.

Die regsfirma het versoek dat die VN-organisasies sy kliënte se pogings steun om by die onderhandelings ingesluit te word.

“Tensy die Ovaherero en Nama deel is en ondertekenaars is van enige finale skikking, kan daar nooit enige omvattende skikking wees nie; daar sal ook nie enige geregtigheid of vrede wees met betrekking tot hierdie kwessie nie,” lui die brief.

Die twee groepe het gesê hulle glo nie die Namibiese regering kan hulle belange “voldoende” verteenwoordig nie en meen enige skikking wat die twee regerings mag bereik, nie finaal of bindend vir die Ovaherero- en Nama-gemeenskappe kan wees nie.

Hulle sê die spesifieke uitwissingsbevele teen die Ovaherero en Nama het hulle vir geslagte lank tot voortgesette en geïnstitusionaliseerde armoede veroordeel.

McCallion & Partners het gesê die Ovaherero en Nama is onteiende en ontmagtigte minderheidsgroepe in Namibië, terwyl baie gedwing is om na Botswana, Suid-Afrika, Amerika en ander lande te vlug.

Verder het die regsfirma gesê ten spyte van die algemene akkoord tussen geleerdes en regskenners dat die 1904-’08-uitwissing binne die klassieke definisie van volksmoord val met baie ooreenkomste met die Joodse Holocaust, maak die Namibiese en Duitse regerings dit as onbelangrik af en gebruik hulle eufemismes soos "hartseer geskiedenis" om die menseregteskendings wat gepleeg is, te minimaliseer.

BESWARE

McCallion & Associates het beswaar aangeteken oor die feit dat die Duitse regering reeds in Julie gesê het hoewel dit om verskoning vir die volksmoord sou vra, vergoeding uitgesluit is ten gunste van geteikende ontwikkelingsprojekte.

“Met ander woorde, sonder die deelname van die minderheid en inheemse groepe wat hoofsaaklik deur die volksmoord geteiken is, het die Duitse regering op sy eie – of met die medewete van die Namibiese regering – besluit die gemeenskappe wat direk deur die volksmoord geraak is, niks sal ontvang nie,” het die regsfirma in ’n brief aan die VN se hoë kommissaris vir menseregte geskryf.

Die firma het ook beswaar aangeteken oor pres. Hage Geingob se stelling in September, naamlik dat Namibië ’n Duitse belegging soek "as ''n vorm van vergoeding vir die Herero-slagting in die vroeë 20ste eeu".

“Met ander woorde, Namibië en Duitsland gaan met onderhandelings voort oor die aard en omvang van die vergoeding en kompensasie om hierdie donker hoofstuk in die geskiedenis af te sluit, maar het doelbewus die regtelike verteenwoordigers van die minderheid en inheemse slagoffers van die volksmoord van die onderhandelings uitgesluit,” aldus die brief.

Duitsland se spesiale gesant oor die volksmoord-gesprekke, mnr. Ruprecht Polenz, het tydens sy eerste besoek aan Namibië gesê die twee groepe se verteenwoordiging op die onderhandelingspan hang van die Namibiese regering af.

Op sy beurt dring die Namibiese regering aan dat onderhandelings op ''n bilaterale grondslag tussen die twee regerings voortgaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!