Ovaherero waarsku jeug kan radikaal raak
‘n Verklaring deur die Namibies-Duitse Stigting (NaDS) het die argwaan van die Ovaherero- tradisionele owerheid (OTA) op die hals gehaal.
Estelle de Bruyn - Die “voortgesette onteiening, uitsluiting en ontmagtiging van die Herero’s en Namas, versterk deur die Duitse regering se rassistiese en arrogante gesindheid, sal jong Herero’s en Namas, met ernstige gevolge vir ons almal, radikaal maak.”
Só waarsku die Ovaherero tradisionele owerheid (OTA) in ‘n verklaring in reaksie op ‘n verklaring wat Maandag deur die Namibies-Duitse Stigting (NaDS) uitgereik is.
Die voorsitter van die NaDS, mnr. Andreas Herrle, het sy kommer oor opperhoof Vekuii Rukoro van die Ovaherero se skaars bedekte dreigemente verlede week uitgespreek.
Rukoro het tydens ‘n nuuskonferensie gesê hy “dreig” nie, maar “waarsku”.
“Dit is met groot kommer dat ons van die onlangse uitsprake van opperhoof Rukoro kennis geneem het. Dit kan verstaan word dat Duitssprekende Namibiërs die teiken van aanvalle deur die Ovaherero kan word. Die opperhoof gee te kenne Duitssprekende Namibiërs beskou die Ovaherero na bewering as ‘mal’.
“Duitssprekende Namibiërs, as burgers van Namibië, handhaaf goeie betrekkinge met alle bevolkingsgroepe,” sê Herrle.
Hierop het die OTA 'n verklaring uitgereik.
“Dit is nie nodig dat ‘n stigting wat voorgee om ‘n Namibies-Duitse stigting te wees, dit vir ons vertel nie, maar terselfdertyd namens Namibiërs van Duitse oorsprong praat.
“Ons het kennis geneem dat die NaDS doodstil is oor die volksmoord van Herero’s en Namas en die noodsaaklikheid van vergoeding wat deur Duitsland betaal moet word. Hulle kan nie eers die ding by sy naam noem nie en verwys na ‘geskiedkundige verliese’ eerder as volksmoord en onteiening. Dit is asof ‘verliese’ sommer so in die geskiedenis gebeur het,” sê die OTA.
Volgens Herrle is dit in alle Namibiërs se belang dat besprekings van hierdie aard op ‘n onemosionele en feitelike wyse geskied.
“Haatspraak sal ons nêrens bring nie. Die NaDS distansieer hom van enige aanhitsing en kwaadstokery,” het hy gesê.
Hy bepleit ook ‘n ope dialoog waar oor sowel omstrede as neutrale kwessies gepraat kan word.
Herrle sê die stigting volg die onderhandelinge tussen Duitsland en Namibië oor die gebeure tussen 1904 en 1908 met groot belangstelling.
Hy sê die Namibiese regering het dit van die begin af duidelik gemaak dat dit die statutêre gesag is wat met Duitsland sal onderhandel, en nie die betrokke etniese groepe nie. Duitsland ondersteun hierdie benadering. Hy wys ook daarop dat die Duitse regering nie vir parallelle onderhandelinge met die Ovaherero en Nama te vinde is nie.
“Die NaDS is bereid om aan besprekings oor mediasie en versoening deel te neem,” het Herrle gesê.
Die OTA sê in die verklaring hulle sal nooit Herero’s en Namas teen Namibiërs van Duitse oorsprong aanhits nie.
“Die NaDS bied op ‘n arrogante wyse aan om ‘n mediasie-rol te speel. Ons verwerp dit met die minagting wat dit verdien.
“Die stigting is oningelig en kan nie so ‘n rol speel nie, omdat hulle oënskynlik nie verstaan dat Duitsland self ‘n presedent geskep het deur regstreeks met die staat Israel en die groep Joodse slagoffers by die Eise-konferensie te onderhandel nie. Ons vra vir niks minder as voldoening aan dié presedent nie,” lui die verklaring.
Hulle wys ook op die groot aantal Herero’s en Namas in die diaspora wat in Angola, Botswana en Suid-Afrika woon en burgers van daardie lande geword het. Hulle is gevolglik van onderhandelinge tussen regerings uitgesluit.
IAN KHAMA SE MENING
Intussen berig Nampa die president van Botswana, genl. (afgetree) Ian Khama, het Maandag tydens sy staatsbesoek aan Namibië gesê geen hoeveelheid geld kan die volksmoord ongedaan maak nie.
In antwoord op vrae van die media het hy gesê: “Ek weet hulle soek ‘n vorm van vergelding. Selfs al slaag dit, en ek weet nie of dit sal nie, sal dit nie die volksmoord te ruste lê nie.
“Wanneer hierdie soort gruwel in die geskiedenis gebeur, het dit gebeur en geld sal dit nie uit die geskiedenisboeke verwyder nie.”
Khama wil eerder sien dat dit as ‘n les vir die wêreld moet dien.
“Ons moet eerder ‘n les hieruit leer en verseker dit gebeur nooit weer elders in die wêreld nie.”
Hy het na die 1994-volksmoord in Rwanda en massa-menseslagtings in Mianmar verwys.
Khama het die geraakte groepe aangeraai om die volksmoordsaak deur weë wat in Namibië beskikbaar is, soos die parlement, op te volg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie