Owen stap ver vir die Kunenevallei

Kommer heers oor die krokodilsterftes in die Kunenerivier, asook die beskading van plantegroei langs die rivier.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – 'n Veldgids van Epupa Falls Lodge, mnr. Owen Kataparo Muhenje (38), gaan sowat 950 km ver voetslaan vir 'n bewusmakingsveldtog oor omgewingskwessies in die Kunenevallei.

Muhenje het op 26 Julie by Epupa Falls Lodge weggespring en gaan dan tot by Ruacana stap en daarna na Windhoek.

Die kwessies waaroor hy bewustheid onder gemeenskapslede langs die rivier en omgewingsbewaarders wil skep, is die impak van die erge skade weens die “mensgemaakte vloede” elke jaar, grond­erosie, die beskadiging van plantegroei langs die Kunenerivier, asook die krokodille wat vergiftig word.

Kommer heers veral oor die krokodille wat sedert 2018 in die Kunenerivier vergiftig word – 'n ver­skynsel wat die afgelope maande toegeneem het.

“Owen wil die belangrikheid van die Kunenevallei tuisbring by die mense wat daar en van dit leef.

“Hulle moet verstaan wat hul toekoms is en as hulle nie nou optree en beskerm wat hulle s'n is nie, gaan daar niks vir hul kinders oor wees nie,” het die woordvoerder van Epupa Falls Lodge, me. Mariette du Toit, aan Republikein gesê.

“Owen loop stadig en gesels met almal wat hy teëkom. Hy onderrig en gee inligting. Hy wil die gemeenskappe trots maak op hul Kunenevallei.”

Du Toit sê hy wil mense langs die rivier onderrig om nie palmbome en ander bome langs die rivier af te kap of af te brand nie.

“Owen gesels met die tuiniers in hul tuine om hul vertroue te wen en hulle te leer om nie die bome te verwoes nie.”

Volgens die eienaars van Kunene River Lodge, mnr. Pete Morgan en sy vrou, Hillary, het hulle in Julie 2018 vir die eerste keer opgeblase krokodille in die Kunenerivier gesien.

“Die Angolese aan die oorkant van die rivier het aan ons erken hulle het giftige aas vir ape langs die rivier gesit,” het Morgan verlede jaar aan Republikein gesê. Hy het dit toe aan die Angolese én Namibiese polisie, asook die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme aangemeld.

Mnr. Romeo Muyunda, ministeriële woordvoer­der, het die voorval destyds bevestig, asook die onlangse voorvalle.

Volg gerus Muhenje se staptog op die Facebook-blad Save the Kunene. Hy kon nie telefonies bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer