Owerhede lu00ea beslag op Samherji-skip
Owerhede lu00ea beslag op Samherji-skip

Owerhede lê beslag op Samherji-skip

Volgens NamPol moet die aanklaer-generaal oor die Heinaste se toekoms besluit.
Leandrea Louw
Leandrea Louw en Augetto Graig – Die Yslandse vismaatskappy Samherji, wat homself aan die spits van ’n internasionale omkoperyskandaal bevind, se skip die Heinaste is Vrydag op beslag gelê.

Mnr. Nelius Becker, nasionale hoof van NamPol se direktoraat van kriminele ondersoeke, het dit bevestig.

Volgens hom is daar op die vaartuig beslag gelê ingevolge artikel 28 van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad.

Die vaartuig word verbind met Samherji se beweerde omkopery van Namibiese amptenare, van sowat N$150 miljoen.

“Ons het genoegsame bewyse om te glo die vaartuig mag Namibië verlaat. Die owerheid sal die vaartuig hou tot die aanklaer-generaal oor die pad vorentoe besluit het,” sê Becker.

Die visepresident van die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW), mnr. Phillip Munenguni, het Vrydag gevra dat beslag op die vaartuig gelê moet word.

“Ons wil hê die topbestuur van Samherji moet met ons oor die pad vorentoe kom praat,” het hy gesê. Dit volg ná die maatskappy se twee ander skepe, die Geysir en die Saga, laas week Walvisbaai stilweg verlaat het, en sowat 210 Namibiese vissermanne gestrand gelaat het.

Intussen het Saga Seafood, die NUNW en die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) ’n ooreenkoms bereik dat dié werknemers twee weke se salaris sal ontvang.

Me. Jackie Thiardt, Saga Seafood se bestuurder vir verkope en bedrywighede, het gesê dit sal teen Donderdag betaal word.

“Op 24 Februarie word nog 'n vergadering gehou om die toekoms te bespreek,” voeg sy by.

Samherji se uitvoerende hoof, mnr. Björgólfur Johannsson het verlede week gesê hy is verlig dat die saak teen die Heinaste se kaptein afgehandel is.

Kaptein Angrimur Brynjolfson (67) is verlede week op Walvisbaai deur landdros Rhivermo Williams ’n boete van N$950 000 óf 12 jaar gevangenisstraf opgelê, op drie klagte wat verband hou met onwettige visvang in Namibiese waters.

Rekeninge nog gevries

In ’n verwante hofsaak het regter Orben Sibeya Donderdag in Windhoek die laat terugtrekking van ’n Fishrot-aansoek aanvaar. In die aansoek het mnre. James en Tamson Hatuikulipi gevra dat die beslaglegging op hul rekeninge en bates opgehef word.

Sibeya sal op 19 Februarie uitspraak oor die koste van die aansoek lewer.

Die aansoekers se bates is op 22 November 2019 gekonfiskeer. Dit sluit ’n verbod op toegang tot hul besighede in, wat insluit JTH Trading, JTH Properties, Fitty Entertainment, Erongo Clearing and Forwarding, Greyguard Investments, Olea Investments Number Nine, Otuafika Investments, Otuafika Logistics, Erf One Nine Eight Zero en die Cambadara-trust, waarvan beide aansoekers trustees is.

Die aansoek is teen die finansiële inligtingsentrum (FIC) en sy direkteur, Bank Windhoek, Standard Bank Namibia, die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, me. Martha Imalwa, die aanklaer-generaal, en die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, ingedien.

Aanvanklik het FIC, deel van Namibië se sentrale bank (BoN), toegang tot die rekeninge vir 12 dae tot 4 Desember laat opskort. Me. Leonie Dunn, direkteur van die FIC, het egter op 6 Januarie op navraag van die korrupsiebeskuldiges se regsverteenwoordigers gesê: “As jul kliënte se bankrekeninge gevries is, is dit nie op versoek van die finansiële inligtingsentrum nie.”

Tog het die Hatuikulipis se regspan eers verlede Dinsdag, twee dae voor hul hofverskyning, laat weet hulle die aansoek wil terugtrek. Me. Elize Yssel, van Engling Stritter en vennote, het gesê die aanvanklike aansoek is onvoldoende – vandaar die terugtrekking. Sy het die hof versoek om deur middel van ’n kostebevel die diskreditering van regeringsinstansies en valse beskuldigings in die hofdokumente te bestraf.

- [email protected] / [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!