• Tuisblad
  • Sake
  • Owerhede slaan toe op uitvoer van skroot, koper
Owerhede slaan toe op uitvoer van skroot, koper
Owerhede slaan toe op uitvoer van skroot, koper

Owerhede slaan toe op uitvoer van skroot, koper

Nellie Brand-Jonker



Die eienaar van 'n Durbanse skrootwerf het skuld beken op talle aanklagte wat met die uitvoer van skrootkoper verband hou.

Die Suid-Afrikaanse Inkomste­diens (SAID) sê in 'n verklaring Angelo Solimene, eienaar van Group Wreck, het skuld beken op vier aanklagte wat met die Wet op Internasionale Handels­administrasie en die Wet op Doeane en Aksyns verband hou.

Dit spruit uit die bedrywighede van die werkgroep wat die SAID en die departement van handel en nywerheid vroeër vanjaar op die been gebring het om die onwettige handel in klere, tekstiel, skoene, skrootmetaal en goud vas te vat.

Die werkgroep verseker dat staatsdepartemente saamwerk om smokkelary, asook die onderwaardering van en bedrog met goedere wat oor die grense kom, te takel.

Die SAID sê talle gesamentlike operasies word gedoen wat dié bedrywe teiken.

“Gevolglik is verkeerde aangifte en onderverklaring van die gewig van skrootmetaal opgespoor.”

Die doeanediens het in Julie vanjaar twee vraghouers van Group Wreck geïnspekteer wat van Durban se hawe uitgevoer sou word.

“Die inhoud van die ­vraghouers is as ongesuiwerde koper verklaar, maar 'n inspeksie het gewys dit bevat skrootkoper.”

Die saak is na die Suid-Afrikaanse kommissie vir ­internasionale handelsadministrasie (Itac) verwys.

Solimene is 'n boete van R500 000 opgelê, waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer goedere sonder die nodige ­permitte uitvoer nie.

Hy moes ook R600 000 betaal om sy goedere van doeane af terug te kry.

Die minister van ­ekonomiese ontwikkeling het in Februarie 2012 gelas dat skrootkoper nie sonder 'n permit uitgevoer mag word nie en Itac het sedert 2017 geen permitte hiervoor uitgereik nie.

Twee direkteure van Beacon Valley, Port Elizabeth, het in Augustus ook skuld beken op 36 aanklagte wat met die uitvoer van skrootmetaal verband hou. Hulle het die inhoud van 36 vrag­houers wat by die Coega-hawe uitgevoer is nie as skrootmetaal verklaar nie en het nie die korrekte regulasies met die uitvoer van die produkte gevolg nie.

Hulle is dieselfde boete opgelê waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is en moes R400 000 betaal om hul goedere van doeane terug te kry.

Die skrootmetaalbedryf is 'n multimiljardrandbedryf en dra jaarliks sowat R15 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP) by, luidens die verklaring.

'n Skrootmetaalgroep het in 2017 'n saak in die konstitusionele hof verloor teen die staat se regulasies oor die uitvoer van skrootmetaal.

Die SAID sê groot hoeveelhede skrootkoper word teen hoë pryse uitgevoer weens die groot vraag in sekere lande.

“Dit het 'n negatiewe impak op die plaaslike koperbedryf en die groot vraag na koper ­veroorsaak 'n toename in die diefstal van ­koperkabels wat tot miljarde rande se skade lei.

“Die grootskaalse uitvoer van skrootkoper het ook 'n ­negatiewe impak op die plaaslike bedryf omdat dit lei tot laer produksie­volumes en werkloosheid. Daarom is regulasies oor die uitvoer van koper onlangs strenger gemaak.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!