• Tuisblad
  • Sake
  • Owerheid rook polissmouse uit wat onwettig sake doen
Owerheid rook polissmouse uit wat onwettig sake doen
Owerheid rook polissmouse uit wat onwettig sake doen

Owerheid rook polissmouse uit wat onwettig sake doen

Marlvern is opdrag gegee om sy kliënte te verwittig dat hy nie ’n gemagtigde korttermynversekeraar is nie en dat hulle nie enige dekking het nie.
Nellie Brand-Jonker – ’n Onderneming wat vir jare onwettig versekering aan kontrakteurs in die konstruksiebedryf verkoop het, is ’n swaar boete opgelê en sy direkteur is vir tien jaar uit die finansiëledienstesektor geskors.

Marlvern Trading, wat as Marlvern Guarantees handel dryf, het polisse aan kontrakteurs verkoop wat as korttermynversekering beskou word, sonder dat hy geregistreer is as ’n korttermynversekeraar.

Marlvern Trading is met R25 miljoen beboet en Khuphukile Dube (44), sy alleendirekteur, is deur die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) vir tien jaar uit die bedryf geskors.

Ná die FSCA se ondersoek is Dube en Marlvern die geleentheid gegee om te reageer op die voorgestelde boete en straf, maar hulle het nie gereageer nie.

“Gegrond op die bewyse, is die FSCA oortuig daarvan dat Marlvern op ’n wesenlike wyse ’n wet in die finansiële sektor oortree het.”

Die polisse is van April 2015 tot Oktober 2017 aan kontrakteurs uitgereik.

Marlvern is opdrag gegee om sy kliënte te verwittig dat hy nie ’n gemagtigde korttermynversekeraar is nie en dat hulle nie enige dekking het nie.

Die onderneming mag geen polisse meer verkoop nie.

Die FSCA het die publiek gewaarsku om nie sake met die onderneming te doen nie.

In ’n advertensie in die Green Construction Journal in 2016 blyk dit dat Marlvern uit Polokwane, Limpopo, sake gedoen het en prestasie- en retensiewaarborge en bod-verbande aan kontrakteurs verskaf het.

Dit is polisse wat dikwels van kontrakteurs vereis word wanneer hulle vir ’n kontrak tender.

Dit bied beskerming aan die projek-opdraggewer, wat vergoeding kan eis as iets sou skeefloop of as daar nie aan die kontrakvereistes voldoen is nie.

Marlvern Trading se geregistreerde adres én Dube se woonadres is volgens die inligting van die registrateur van maatskappye Alicedale Court, Viscountweg, Windsor West in Randburg.

Die inligting oor die beslote korporasie toon Dube het in 2009 die alleendirekteur geword.

Die FSCA het gesê die onderneming is in 2011 as ’n kredietverskaffer geregistreer.

Nog drie polissmouse vasgevat

Die FSCA het ook die publiek gewaarsku om nie met ’n onderneming genaamd GFK, wat as Royal Sureties handel dryf, sake te doen nie.

GKF het ook sodanige waarborgversekering verkoop sonder dat hy ingevolge die Wet op Korttermynversekering gemagtig is om die produkte te verkoop.

GKF is ná ’n ondersoek met R5 miljoen beboet.

Tydens die ondersoek het GKF van Heuwelsig 14, Johan Gertzen-singel in Meyersdal, Alberton, sake gedoen.

Morwesi Rose Masiu en Mushure Sikhumbuzo Mutangadura word as die direkteure aangedui.

Brenda Tendakai Matangadura het ook vir die maatskappy gewerk.

Nie een van hulle is gemagtig om in die bedryf as finansiëlediensteverskaffers op te tree nie.

Al drie is vir tien jaar uit die bedryf geskors. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!