Owerheidskenner reageer skerp op verhogings
Owerheidskenner reageer skerp op verhogings

Owerheidskenner reageer skerp op verhogings

’n Oudadjunkminister sê raadslede moet die gemeenskap dien en is nie daar om geld te maak nie.
Augetto Graig
Augetto Graig

’n Oudadjunkminister van plaaslike owerhede, prof. Gerhard Tötemeyer, het op navraag hom sterk uitgespreek oor die onlangse versoek van die Vereniging van Plaaslike Owerhede in Namibië (ALAN) vir ’n 50% verhoging in die vergoeding van Namibiese dorpraadslede.

“As mens in ’n gesonde morele verstand glo en die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan, sou jy nie ’n 50% verhoging te midde van die coronapandemie voorstel nie,” het hy gesê.

Die president van ALAN en voormalige Oshakati-dorpraadslid, me. Katrina Shimbulu, het Donderdag aan munisipale rade landswyd geskryf om te vra dat raadslede ’n verhoging moet kry.

Volgens haar is ALAN in Desember verlede jaar deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gevra om aanpassings aan raadslede se toelaes voor te stel.

Sy sê raadslede het laas in 2017 ’n 20% verhoging gehad. Haar voorstel vir ’n 50% verhoging kom nadat Namibië se toelaes met dié van plaaslike owerhede in Suid-Afrika en Botswana en sekere staatsondernemings vergelyk is.

Sy dring aan die verhoging is nodig om dienslewering te verseker.

“Raadslede word te min betaal en kan nie ’n lewensbestaan maak uit wat hulle nou verdien nie. Van hulle kry so min as N$3 500,” sê sy.

Tötemeyer sê: “Om as raadslid te dien, is nie ’n werksgeleentheid nie. Dit is ’n tydelike pos om die gemeenskap te dien. Dit is nie ’n geldmaakgeleentheid nie, alhoewel ek weet van raadslede wie se enigste belang is om geld te maak,” het hy gesê.

Volgens Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, is sommige raadslede ook ongemaklik met die voorgestelde verhoging.

Hulle haal die president van die Namibiese Unie vir Staatsamptenare (PSUN), mnr. Titus Sitentu, aan waar hy klem daarop lê dat staatsamptenare oor die laaste ses jaar geen verhoging ontvang het nie.

“Hoekom net politici, terwyl die mense wat ’n verhoging verdien die werknemers van dié plaaslike owerhede is. Dit is nie logies om politici ’n verhoging te gee, terwyl hulle deeltyds aangestel is nie,” sê Sitentu.

“In meeste gevalle is hulle reeds voltyds by hul daaglikse werksplekke aangestel. Oor die jare is dit dieselfde raadslede wat munisipale werknemers se verhogings afkeur weens ’n tekort aan geld. Waar sal die geld vir dié verhogings vandaan kom?” wil hy weet.

Shimbulu sê in haar voorstel dat finansiële volhoubaarheid in ag geneem is en munisipaliteite moet self besluit of hulle die voorstel goedkeur or verwerp gebaseer op hul finansiële omstandighede.

Tog stel sy in dieselfde brief voor raadslede moet ook ’n toelaag van N$350 kry vir elke raadsvergadering wat hulle bywoon. Op die oomblik geniet net Walvisbaai, Swakopmund en Windhoek se raadslede soortgelyk toelae, terwyl hierdie voorgestelde verhoging nie van toepassing is op dié munisipaliteite nie.

Verder stel Shimbulu ook ’n selfoontoelaag van N$600 ’n maand vir raadslede voor, omdat “dit belangrik is om kommunikasie te verbeter en vir alle raadslede om effektief te kan kommunikeer”, skryf sy.

Tötemeyer sê ’n verhoging in toelae gekoppel aan inflasie kan regverdig word, maar slegs as dit tot al die werknemers van toepassing is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!