Pa begrawe seuntjie glo lewend
Pa begrawe seuntjie glo lewend

Pa begrawe seuntjie glo lewend

’n Gruvoorval waartydens ’n man sy gestremde tweejarige seuntjie glo in ’n sak geplaas en in ’n vlak graf begrawe het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Man (26) is in polisieaanhouding in die Oshikotostreek nadat hy sy gestremde seuntjie (2) glo in ’n vlak graf begrawe het.

AO Immanuel Iiduwa, ’n polisiewoordvoerder, het die grieselrige voorval gister by navraag bevestig.

Volgens die woordvoerder het die seuntjie se ma hom die afgelope Saterdag na die Onadhi-nedersetting by Onankali na sy pa en ouma geneem.

Sy het hom van Outapi in die Omusatistreek af gebring, sê die woordvoerder.

Die fisiek gestremde seuntjie sou na verwagting voortaan in die sorg van sy ouma aan vaderskant wees, sê Iiduwa.

Die woordvoerder sê die man het die seuntjie Dinsdag na bewering van die huis af geneem, hom in ’n sak geplaas en in ’n vlak graf begrawe.

Die seuntjie het vermoedelik versmoor in die graf wat die man na bewering in ’n mahanguveld gegrawe het.

“Die oorledene kon nie stap nie, omdat hy fisiek gestrem gebore is,” sê Iiduwa.

Hoewel die seuntjie se naasbestaandes kennis dra van sy dood, weerhou Republikein sy naam omdat sy pa volgens Iiduwa na verwagting eers vandag in die hof sal verskyn.

“Mense is so wreed,” sê die woordvoerder met verwysing van die voorval.

Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, was gister met afgryse vervul toe Republikein haar oor die voorval inlig.

“Dit is só hartseer om te hoor. Ek hoop daardie man is in hegtenis geneem sodat hy ons kan vertel wat gebeur het vir hom om vir ’n hulpelose seuntjie kwaad te word.

“Is dit ’n normale of abnormale man?” wou sy voorts weet.

“Ek sê altyd vir mans en vroue as julle nie na jul kinders kan omsien nie, moet julle hulle na die ministerie toe bring. Moenie julself bemoei nie. Dit maak nie saak of hulle gestrem of normaal is nie.”

Sy het benadruk die ministerie beskik oor geriewe en veilige hawens om na die kinders se versorging om te sien. “Hulle moenie wraak neem teen die kinders oor hul lewensmaats nie. Dit is baie, baie sleg.”

Sioka het gesê dit is aaklig om die nuwe jaar met dié tragiese nuus af te skop.

Aktivis antwoord

Mnr. Sidney Boois, ’n aktivis wat hom beywer vir die welstand van kinders en vroue, het gister gesê ’n indaba moet in elk van die land se 14 streke gehou word om die kernoorsake van geweld teen weerloses te bepaal.

“Dit is absoluut skokkend. Dit is ’n baie hoë vlak van geweld.”

Volgens hom vind tragedies soos dié plaas omdat mans nie hul rol en identiteit as mans verstaan nie.

Magsmisbruik is ook ’n bydraende faktor, meen Boois.

Hy vra dat netwerke vir mans – hetsy in kerke, in gemeenskappe of by werksplekke – in die hoofstroom opgeneem word.

“Ons moet álle platforms vir gesprekvoering gebruik.”

Boois sê om ’n paar plakkate in die openbaar te swaai, is lankal nie meer genoeg nie.

Geslagsgegronde geweld hou een van die grootste bedreigings vir die land se maatskaplike ontwikkeling in, sê hy.

Boois sê mans se geestesgesondheid moet ook aandag geniet.

Hy waarsku teen die oppervlakkige ontleding van dié maatskaplike euwel.

“Ons gebruik enigiets op die oppervlak om dít die sondebok te maak. Dit is dikwels ’n opeenvolging van gebeure. Daar is ook baie tradisionele, kulturele, geestelike, fisieke en psigomaatskaplike faktore.”

Volgens Boois speel alkoholmisbruik ook dikwels ’n rol in geweld.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!