Pa skiet seun, toe homself
Pa skiet seun, toe homself

Pa skiet seun, toe homself

Tanja Bause
Tanja Bause – In nóg twee voorvalle van gesinsgeweld die naweek is ’n 11-jarige seun deur sy pa doodgeskiet waarna die pa selfmoord gepleeg het en ’n vrou is deur haar gewese kêrel geskiet voor hy die vuurwapen op homself gekeer het.

Mnr. Kuituta Masekela, ’n Zambiese burger, het sy 11-jarige seun, Kuituta Kwibisa, Vrydag by die Kaenda-nedersetting naby Katima Mulilo met ’n haelgeweer in die maag geskiet. Die seun is op die toneel dood. Die pa het die bosse ingevlug en homself met dieselfde geweer geskiet.

Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, behoort die geweer aan sy Namibiese werkgewer. Kwibisa was as beeswagter by hom in diens.

In die Okandjengedi South-nedersetting by Oshakati het mnr. Abner Abner Vrydag om 18:00 die huis van sy eksmeisie binnegegaan en haar met ‘n 9 mm-pistool in die linkerarm en die maag geskiet. Hy het daarna na die badkamer gegaan en homself in die kop geskiet. Hy is op slag dood.

Sy is in die Oshakati-staatshospitaal opgeneem en haar toestand is stabiel, sê Shikwambi. Die 32-jarige slagoffer is swanger en verwag haar huidige kêrel se baba.

Volgens Shikwambi het ’n 14-jarige ’n sesjarige meisie in die Oniiwe-nedersetting verkrag. Hy het glo onder ’n boom gesit en die meisie wat op pad skool toe was, sien verbystap. Hy het haar geroep en beveel om uit te trek. Die meisie het geweier en hy het haar gegryp en verkrag. Die seun is ’n graad 4-leerling by ''n primêre skool in die omgewing.

By die Sandhotel informele nedersetting op Lüderitz het ’n 31-jarige man die naweek in ''n tragiese branddood omgekom. Die man het kos op ’n gasstoof gemaak en vermoedelik aan die slaap geraak. Die gasbottel het ontplof en die man het verbrand.

Voorts blyk dit uit die misdaadverslag dat ’n vrou na bewering ’n 12-jarige meisie van die Omahenene-nedersetting in die Kunenestreek gekoop het sodat sy as ’n huishulp in haar huis in die Tutalni-nedersetting kon werk. Die polisie het ’n wenk hieroor deur ’n lid van die gemeenskap ontvang en ondersoek gaan instel. Die meisie het beweer dat sy talle kere deur die verdagte aangerand is. Die meisie het geen dokumente nie en haar nasionaliteit kon nog nie vasgestel word nie. Sy is tans onder die toesig van die Kids Haven Shelter op Walvisbaai. Niemand is in dié verband in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.

Volgens Shikwambi is ’n onderwyser van die Ekangolinene Gekombineerde Skool in die Oshalembe-nedersetting in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n 21-jarige vrou verkrag het. Die vrou was as ’n huishulp by hom in diens.

Die driejarige Rosalia Johannes is Vrydag in Eenhanastraat in die Havana informele nedersetting deur ’n voertuig raak gery toe sy die straat wou oorsteek. Die 28-jarige bestuurder het van die toneel af gevlug, maar het homself Saterdagoggend aan die polisie oorgegee.

Op die hoofpad tussen Outapi en Ruacana is die 20-jarige mnr. Ipinge Jona deur ’n voertuig doodgery. Hy en ses ander jongmense het die pad oorgesteek toe hy deur die voertuig getref is. Hy het op die toneel gesterf. Die 26-jarige bestuurder is nie in hegtenis geneem nie en polisie-ondersoek duur voort.

Nóg ’n man is op die hoofpad tussen Sangwali en Kongola doodgery. Die man kon nog nie geïdentifiseer word nie en die polisie vra die gemeenskap om help. Die 32-jarige bestuurder is nie in hegtenis geneem nie en die ondersoek na die voorval duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer