Paaie eis tien oor Paasnaweek
Paaie eis tien oor Paasnaweek

Paaie eis tien oor Paasnaweek

Afgesien van tien sterftes is vele meer vir altyd verander deur die naweek se voertuigongelukke.
Augetto Graig
Augetto Graig – Minstens tien mense is die af­gelope langnaweek in voertuigongelukke landswyd dood.

Die Namibiese polisie se misdaad­verslag vermeld onder meer 'n gru-ongeluk omstreeks 17:00 op ­Donderdag 1 April wat die lewens van drie mense ongeveer 15 km buite Okahandja geëis het.

'n Soldaat wat by die ­Osona-militêre basis gestasioneer is, is op klagte van dronkbestuur en strafbare manslag in hegtenis geneem.

Hy was agter die stuur van 'n Isuzu-bakkie wat van agter teen 'n Toyota Hilux-bakkie vasgery het. Die Hilux met sewe ­insittendes ­het omgeslaan en me. Emgard ­Ndjaranguru (42), die nege­jarige ­Tjaripara Kambato en me. Meriam ­Mutirakuti (43) is dood. Die ­beseerdes is na die Okahandja-staatshospitaal geneem.

• Donderdag omstreeks 21:30 het 'n bestuurder beheer oor 'n ongelisen­sieerde bakkie op die grondpad tussen Omapopo en Onaanda verloor en dit het omgeslaan.

Een passasier is op slag dood en nog twee is ernstig beseer. Hulle word by die Oshakati-staatshospitaal behandel. Na bewering het die passasiers die bestuurder aangeval en hom geslaan totdat hy weggehardloop het.

Die polisie soek hom steeds.

• 'n Kwartier voor middernag op 1 April is mnr. Wilber Erenst Beukes op die B1-hoofpad tussen Windhoek en Rehoboth naby Omeya dood.

Na bewering het hy met twee passasiers in 'n grys Toyota Hilux-bakkie gery toe hy beheer verloor en die voertuig omgeslaan het. Hy is op slag dood, terwyl die passasiers na die hospitaal geneem is.

• Vrydag omstreeks 20:30 op die pad tussen Okahao en Oshakati, naby Egululyeengumba, is 'n 33-jarige voetganger deur 'n silwer stasiewa doodgery.

Die 46-jarige bestuurder en die slagoffer is beide Namibiese mans. Die oorledene was onbekend aan inwoners van die omgewing en is nog nie uitgeken nie. Die polisieondersoek duur voort.

• Omstreeks tien voor agt dieselfde aand is die driejarige Jameson David John by die Engela-hospitaal dood. Hy het na bewering vanaf die agterkant van 'n Hilux-bakkie gespring terwyl die voertuig teen tussen 10 en 20 km/h gery het. Die ­bestuurder het 'n geldige rybewys en drie volwas­senes was saam met die seuntjie agterop die bakkie terwyl sy ouers in die voertuig se kajuit was toe die ongeluk gebeur het.



'ROWER' STERF IN TAXI

Saterdag om 12:40, op die hoek van Clemence Kapuuo- en Sukkot­straat, het 'n taxi teen 'n hoë spoed die buite­muur van die Dolam-begraafplaas getref. Een man is uit die voertuig geslinger en is op slag dood nadat hy sy kop gestamp het.

Die polisieverslag beweer hy het saam met 'n tweede manlike insittende probeer om die taxibestuurder te beroof.

Die twee het na bewering die bestuurder gegryp terwyl hy gery het, maar hy het spoed vermeerder totdat hy by die kruising ver­ongeluk het.

Die tweede vermeende rower het weggehardloop en die ­taxibestuurder is lig beseer. Die polisieondersoek duur voort.

• Saterdag om 13:40 op Keetmanshoop by die bouperseel van die Spar-winkelsentrum, het 'n 39-jarige man omgekom. Dit word beweer hy en 'n 59-jarige bestuurder van 'n Nissan Navara het met 'n sleepwa marmertafelbladstukke vervoer, toe hy van die sleepwa afgeval en van die stukke bo-op hom beland het. Medewerkers het gehelp om die marmerstukke van hom af te haal maar hy is 25 minute later by die Keetmanshoop-staatshospitaal dood. Die polisieondersoek duur voort.

• Saterdag omstreeks 18:00 by Tutaleni op Walvisbaai, het 'n 46-jarige man glo 'n onpadwaardige voertuig sonder 'n rybewys bestuur en bo-oor 'n vyfjarige seuntjie gery.

Die kind is dood en die drywer is by die Walvisbaai-staatshospitaal vir hoë bloeddruk opgeneem terwyl die polisieondersoek voortduur.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!