Paaie eis weer talle lewens
Paaie eis weer talle lewens

Paaie eis weer talle lewens

Al meer voetgangers sterf in ongelukke.
Augetto Graig
Augetto Graig - Vier mense het tussen Saterdagmiddag en Sondagaand in ongelukke op die Windhoek-Okahandjapad gesterf.

Twee soldate van die Namibiese weermag is Sondagaand op slag dood toe hul voertuig buite Okahandja omgeslaan het.

Hulle is mnr. Petrus Joseph (32), wat agter die stuur was, en mnr. Phillipus Shilongo (25). Twee ander insittendes is beseer en moes na die Okahandja-staatshospitaal geneem word waar hulle in 'n bestendige toestand verkeer.

Twee vroue is dood in 'n gru-ongeluk Saterdagmiddag op die Westelike Verbypad naby Brakwater toe 'n band vermoedelik gebars het, die voertuig omgeslaan het en weens die impak uitmekaar geruk is.

Twee passasiers, me. Hileni Kamati (26) en me. Iipumbu Rehto (25) is op slag dood.

Kamati is aanvanklik verkeerdelik as Sofia Mwandingi (23) uitgeken, aangesien haar ID-kaart op die toneel gevind is. Die bestuurder en 'n derde passasier het ligte beserings opgedoen.

Gerugte op sosiale media van voertuie en groepe mense wat motoriste op die pad tussen Otavi en Otjiwarongo die naweek wou voorlê, asook mense wat langs die pad tussen Karibib en Okahandja lokvalle vir motoriste gestel het, kon nie deur die polisie bevestig word nie.

Volgens hoofinsp. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, het polisiebeamptes dié paaie gepatrolleer en selfs 'n mobiele padblokkade opgestel, maar geen motoris kon meer inligting oor dié gerugte verskaf nie.

Shikwambi het Namibiërs versoek om hul persoonlike veiligheid voorrang te gee en altyd versigtig en agterdogtig oor moontlike misdadige planne te wees.

“Bewaar asseblief jul lewens en jul besittings, want nuwe misdaadtendense kom voortdurend na vore,” het sy gesê.

Volgens haar is mnr. Otto Skrywer (44) Saterdag 1 km buite Witvlei langs die pad doodgery.

Die polisie vermoed hy het óf in die pad gelê en geslaap, óf langs die pad gestap toe hy getref is.

Hulle vermoed hy was dronk, aangesien 'n houer tuisgemaakte bier langs hom gevind is.

Voetgangers het vroegoggend op sy liggaam afgekom.

Die bestuurder het weggery en word nog gesoek.

Lede van die publiek met inligting word versoek om adj.komm. Christopher Kalimbula by 081 1246 131 te skakel, of om dit by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Onder soortgelyke omstandighede is mnr. Dingomba Mbasikora (65) Vrydag om 21:00 op die Trans-Caprivi-snelweg naby Pipo in die Chetto-omgewing deur 'n vragmotor raakgery.

'n Vol tweeliterhouer met tradisionele bier is langs sy lyk gekry, maar volgens die polisie het die lorriebestuurder nie gestop om te sien wat gebeur het nie.

Hy word versoek om vir adj.komm. Abner Agas by 081 623 5574 te skakel, of om by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Mense wat die ongeluk gesien het, word ook gevra om die polisie te kontak.

Die polisie ondersoek verder 'n saak van strafbare manslag nadat 'n 35-jarige lorriebestuurder Saterdagaand 'n voetganger doodgery het op die pad tussen Werda en Omakange in die Kunenestreek.

Die oorledene is nog nie uitgeken nie en die polisieondersoek duur voort. Die bestuurder is nie inhegtenis geneem nie.

'n Seun van 16 jaar, wat Saterdag sy pa se motor sonder toestemming geneem en saam met sy vriende Khorixas toe gery het, het beheer oor die voertuig verloor toe hy vir water in die pad uitgeswaai het.

Een passasier, Armando !Aubeb (19), 'n leerling aan die Sekondêre Skool Braunfels, is op slag dood.

Die ander passasier, 'n 18-jarige seun, het ligte beserings opgedoen.

Die bestuurder is ongedeerd. Die polisieondersoek duur voort.

Mnr. Patrick Groenewaldt (36) het gesterf nadat hy Saterdag op die C 14-pad naby Klein-Aub beheer oor sy voertuig verloor het.

Hy was alleen in die voertuig, wat omgeslaan het. Die beseerde Groenewaldt is na die Maltahöhe-staatshospitaal geneem, maar het op pad daarheen gesterf.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer