Paaie in nedersetting op Oshakati oorspoel

Inwoners van ’n informele nedersetting op Oshakati vra die kantoor van die burgemeester en stadsraad om hulp nadat reën oorstromings in die gebied veroorsaak het.
Tunohole Mungoba
Tunohole Mungoba op Oshakati

Inwoners van die Evululuko- informele nedersetting in die omgewing van Oshakati-Oos se toegang tot hul huise word tydens elke reënseisoen deur oorstromings versper.

“Ons moet elke jaar verskillende maniere uitdink om toegang tot ons huise te verkry. Die paaie is altyd met reënwater versper en dit is 'n broeiplek vir muskiete. Ons moet ook parkeerareas in die gemeenskap deel, want alles oorstroom,” het een van die inwoners, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

“Ons kinders word siek en dit is nie veilig vir hulle om buite te speel nie. Die reënwater is besoedel en gemeng met ander vullis, omdat ons nie 'n behoorlike rioolstelsel het nie.

“Ons bure het getrek en ons woon tans op ’n ander plek omdat daar water oral is. Ou mense en kinders moet versigtig wees om nie te val nie en daarom het ons bande in die water gesit om op te loop sodat ons by ons huise kan uitkom,” het dié inwoner aan Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, vertel.

“Inwoners van die nedersetting bou hul eie toilette, want ons het nie behoorlike sanitasie nie. So jy kan jouself net voorstel hoe onhigiënies en ongesond hierdie situasie is.”

Die burgemeester van Oshakati, mnr. Leonard Hango, het gesê sy kantoor is bewus van die situasie en hulle het begin om die waterkanale skoon te maak.

“Ons ingenieurs is bewus daarvan en besoek sedert verlede week Maandag die betrokke gebiede. Soms versper die inwoners die waterkanale om te verhoed dat water in hul erwe ingaan en dit beïnvloed weer ander inwoners,” het hy gesê.

Wat die verskaffing van 'n rioolstelsel vir die inwoners betref, sê Hango, dat orde eers in die nedersetting geskep moet word voordat ’n rioolstelsel geïmplementeer kan word.

“Al die huise is op die oomblik oraloor die gebied versprei. Ons moet dit eers in orde kry en die huise moet aan verskillende strate toegeken word voordat ons met die proses kan begin. Ons kantoor het reeds begin om die nedersettings te formaliseer en die Emwandi- en Sky- informele nedersettings op Oshakati is ons eerste fokus. Op 6 April sal inwoners, met wie ons begin het, na Onawa verskuif word totdat ons die hele situasie uitgesorteer het.

“Ons wil hulle ook met titelaktes voorsien om vir toekomstige doeleindes eienaarskap te bewys,” het Hango gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!