Paaiesektor moet binne perke leef
Paaiesektor moet binne perke leef

Paaiesektor moet binne perke leef

Oormatige verbintenisse, duur pryse moet vasgevat word
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die raadvoorsitter van die Padfondsadministrasie (RFA), mnr. Penda Ithindi, sê die instelling se beperkte inkomste-invorderingstrome noodsaak ''n meer innoverende benadering tot bykomende befondsing en meer deurdagte gebruik daarvan.

“Ons moet ''n balans vind tussen wat vir die ekonomie nodig is en wat die beste manier is om optimaal van ons hulpbronne gebruik te maak,” het Ithindi Dinsdag tydens die jaarlikse besinning oor die RFA se sakeplan gesê.

In dié verband het hy gesê buitensporige verpligtinge op begrotings moet vermy word, aangesien dit hardverdiende surplusse uitput.

Hy het bygevoeg dat buitensporige prysvasstellings ingeperk moet word, terwyl optimale gehalte nagestreef moet word.

“Dit moet lyk asof ons vir die volgende 100 jaar beplan,” het Ithindi gesê.

Hy het gesê die fokus vir die volgende vyf jaar moet daarom op die bou van minder, maar meer strategiese paaie wees.

Die RFA se vyfjaar strategiese plan is tans onder bespreking om dit in ooreenstemming met die vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP 5) en die Harambee-welvaartplan rakende vervoer, logistiek en die padsektor te bring.

Die RFA het bykans N$2,12 miljard vir die 2015-''16 finansiële jaar ingevorder, waarvan N$1,84 miljard bestee is.

RFA se uitvoerende hoof, mnr. Ali Ipinge, het gesê die maatskappy se finansiële posisie het Maart op ''n positiewe noot met ''n surplus van N$277 miljoen geëindig. Die opgeloopte tekort is van N$550 miljoen tot N$66 miljoen verminder.

Die RFA het ook sy agterstallige skuld van N$330 miljoen afbetaal.

“Met die afbetaling van skuld is broodnodige kontant beskikbaar om bykomende instandhouding van paaie te doen,” het Ipinde gesê.

''n Lening van N$447 miljoen van die Duitse ontwikkelingsbank KfW wat in Desember verkry is, het befondsing aangevul vir die dubbelpad wat tans tussen Windhoek en Okahandja gebou word.

Die RFA bestuur die padfonds wat deur die padverbruikersgelde verkry word. Geld vir die padfonds word aan projekte en programme vir die onderhoud en behoud van die nasionale padnetwerk toegeken.

Dit word gedoen deur befondsing van veral die Paaieowerheid (RA), sowel as streeks- en plaaslike owerhede en verkeerswetstoepassing.

Ithindi het gesê deur die befondsing van die RA is die agterstand van die instandhouding van teerpaaie van 17% in 2012 tot 9% verminder, met die herseëling van paaie wat vier jaar gelede begin het.

Dit is egter ten koste van grondpaaie - daar is ''n agterstand van 70% in behoorlike instandhouding. Die RFA en RA het egter onderneem om meer geld hiervoor beskikbaar te stel.

Volgens die RFA se strategiese beplanning sal die RFA Wet van 1999 gewysig word om met die Wet op Openbarebestuur van 2015 ooreen te stem.

''n Hersiening van die werksaamhede van Natis en sy gepaardgaande eNatis word ook beplan om dienste wyer beskikbaar te stel en om dienslewering aan padgebruikers te verbeter, sê die RFA.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!