Pac-man deel visie vir Noorde
Die uitgetrede bokser wil mense inspireer en bystaan om meer gesond te lewe.
Tielman van Lill
Die 32-jarige Risto Ashikoto, wat as bokser in die vlieggewigklas ook as Pac-man bekend was, sê hy het groot planne vir die toekoms wat atletiek, boks en algemene fiksheid vir die mense van die Oshikotostreek insluit.
Ashikoto, wat 'n visie as 'n sportontwikkelaar het, woon tans op Omuthiya.
Hy het in 2015 sy Power to Power ontwikkelingsplan geregistreer en verlede September is die boksakademie en buitenshuise fiksheidskamp geopen. Volgens hom sal die atletiek- en marathonakademie in die nabye toekoms met sy aktiwiteite afskop, terwyl 'n binnenshuise fiksheidskamp ook in die vooruitsig gestel word.
Daar sal ook na gestremde atlete gekyk word, vertel hy aan Republikein.
“Ek wil die jong mense help om hulself te ontwikkel. Ek glo vas dat daar nie kos op die tafel vir 'n lui man is nie. As jy nie bereid is om jouself te verbeter om in die toekoms in 'n bruikbare landsburger te ontwikkel nie, sal niemand anders dit doen nie,” sê Ashikoto.
Soos dit met ambisieuse drome gaan, beskik hy oor te min geld, minimum toerusting en fasiliteite.
“Ek het 'n droom vir die Noorde, waar talle sportmanne en -vroue met onontwikkelde talent rondloop. Ek wil hulle help om hul drome te verwesenlik. Dit is baie maklik vir vandag se jeug om in die verkeerde en slegte gewoontes te verval en daarvoor sien ek nie kans nie.
“As 'n gewese bokser en atleet weet ek wat dit verg om sukses te behaal en is bereid om my ervaring te deel met die mense wat bereid is om hard te werk. Ek soek die regte mense en borge wat saam met my die pad sal stap.
“Indien daar mense is wat slaansakke, handskoene, skermhandskoene en soortgelyke hulpmiddels het, kan hulle dit gerus aan ons skenk.
“Ons soek ook na grond op Omuthiya om 'n sentrum op te rig waar alles onder een dak aangebied word,” sê Ashikoto.
Mnr. Frans Enkali, hoofstreekbeampte van die Oshikotostreek, ondersteun Ashikoto se visie en sê sy planne kan help om dié gemeenskap te help ontwikkel.
“Power to Power is 'n Namibiese organisasie met die strewe om die jeug in ons streek op te hef. Dit sal hulle besig hou en help om in verantwoordelike landsburgers te ontwikkel. Die Oshikoto streekraad verwelkom hierdie idee met ope arms.
“Hierdie tipe aktiwiteit dra tot die ontwikkeling van ons streek by. Dit sal gaaf wees as daar instansies is wat bereid sal wees om met sy droom te help,” het Enkali geskryf.
Ashikoto beplan om op Saterdag 26 Augustus 'n amateurbokstoernooi op Omuthiya aan te bied waarheen streekspanne soos Erongo, Khomas, Oshona en Ohangwena genooi sal word om in 'n streekkompetisie deel te neem. Vroeër dieselfde oggend sal 'n half- en volle marathonwedloop ook aangebied word.
“Ek het tans 51 mense wat by my fiksheidskamp oefen en sowat 70 ywerige boksertjies (vanaf vyf jaar oud) wat onder my toesig slyp. Ek hoop om binnekort heelwat meer mense te inspireer om meer gesond te lewe,” sluit Ashikoto af.
Belangstellendes kan Risto Ashikoto by [email protected] of sel. 081 466 6776 of 085 640 6491 kontak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie